Verslag wys hoe ministers na Gupta-pype dans

Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings. (Argieffoto: ANA)

Die tweede gedeelte van die Zondo-kommissie se verslag na staatskaping skets ʼn droewige prentjie van hoe miljarde rande by Transnet en Denel geplunder is – met die ANC na wie die vinger opnuut gewys word.

Deel 2 van die verslag is Dinsdag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig en handel oor dié twee entiteite.

In die jongste gedeelte van die verslag beveel Zondo onder meer aan dat ʼn liggaam op die been gebring word om die regte mense te identifiseer en aan te beveel as lede van die rade van staatsbeheerde instellings (SBO’s), asook die aanwys van uitvoerende en finansiële hoofde. Luidens die verslag kan dié aanstellings nie net in die hande van politici gelaat word nie.

“Die onlangse geskiedenis van staatskaping is deurspek met voorbeelde waar die rade, uitvoerende hoofde en finansiële hoofde van SBO’s met bymotiewe, en geensins in die belang van die SBO’s nie, aangestel is,” lui die Zondo-verslag voorts.

Die verslag gee ʼn breedvoerige uiteensetting van die finansiële en operasionele ineenstorting van Denel en Transnet, hoe dit in die staatskapingsnet beland het en hoe dit klaarblyklik met die medewete en samewerking van senior ANC-amptenare gedoen is.

“Die getuienis wat die kommissie met verwysing na Denel aangehoor het, was dat die SBO in ʼn stadium wêreldwyd hoog aangeskryf is. Dit is nou egter ʼn entiteit wat bykans op sy knieë is,” lui die verslag.

“Die vraag wat ontstaan, is: Hoe het dit gebeur en hoekom is dit toegelaat?”

Die kommissie beveel aan dat wetstoepassingsowerhede onder meer ondersoek instel na Malusi Gigaba, ʼn voormalige minister van openbare ondernemings – en andere – oor beweerde betalings wat hulle glo by die Guptas ontvang het.

Gigaba word in die verslag uitgewys as dat hy ʼn noue band met die Guptas gehad het – nes oudpres. Jacob Zuma en sy familie – en dat hy, nes Brown, sekere handpoppe in invloedryke posisies by SBO’s aangestel het om na die Guptas se pype te dans.

Gigaba, ʼn gereelde besoeker aan die Guptas, het luidens die verslag druk op Riaz Saloojee, ʼn voormalige uitvoerende hoof van Denel, geplaas om tenders na Gupta-maatskappye te herlei.

Riaz is in 2015 by Denel – toe nog ʼn winsgewende onderneming – saam met die destydse finansiële hoof en maatskappysekretaris oor beweerde wangedrag geskors.

Zondo beveel in die verslag aan dat wetstoepassingsowerhede dié Denel-direkteure ondersoek wat glo toegekyk het terwyl die instelling geplunder is, terwyl diegene wat teen korrupsie opgestaan het, in die pad gesteek is.

Lynne Brown se ‘onwaarhede’

Wat betref Lynne Brown, die voormalige minister van openbare ondernemings, bevind die Zondo-verslag daar is heelwat aanduidings dat sy ʼn Gupta-meeloper was. “Daar is heelwat oor hoe me. Brown sekere kwessies oor SBO’s hanteer het, wat daarop dui dat sy die Guptas gehelp het.”

Die verslag lui ook dat sy in sommige gevalle “doelbewuste onwaarhede” aan die kommissie vertel het.

“Die enigste moontlike gevolgtrekking is dat me. Brown ʼn doelbewuste deelnemer was aan die Guptas se planne om Denel en Eskom te kaap.”

Die verslag brei uit oor Brown se aanstelling van Dan Mantsha, ʼn prokureur wat vroeër van die rol geskrap is, as voorsitter van Denel se raad.

“Die feit dat sy nie haar huiswerk [oor die aanstelling] gedoen het nie, is ʼn aanduiding dat die Guptas sy naam aan haar moes gegee het en dat daar, na haar mening, geen rede was om ʼn agtergrondondersoek te doen nie, aangesien sy sou aanstel wie ook al die Guptas wou gehad het,” lui die verslag.

Mantsha word bestempel as een van die sentrale rolspelers in planne om Denel te kaap. Hy is boonop nie mislei nie, maar het opgetree met die verwagting dat hy beloon gaan word vir sy werk namens die Guptas – soos ook die geval was wanneer hy op hul onkoste gereis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kokerboom ·

Kla die ANC se totale bestuurskaders van 1994 tot tans aan van staatskaping, korrupsie, bedrog, kaderbevoordeling, wanadministrasie van land, wanvoorstelling, plundering en grootskaalse diefstal

Kobus ·

Die mense wat hulle werk agv die plundering verloor het moet ook die betrokke ministers persoonlik aanla en verlies aan inkomste van hulle eis

Suzette ·

Dit sal briljant wees maar hoe ver gaan die arme mense kom met die hopelose regstelsel???

tierwyfie ·

Daar moet nou vinnig opgetree word teen al die betrokkenes, hulle paspoorte moet ingetrek word, bankrekeninge gevries word en beslag gelê word op al hulle bates. Zuma moet baie vinnig in sy oranje pakkie kom en die sleutels weggegooi word.

Michael ·

Sal nooit gebeur-regstelsel jare reeds deur ANC gekaap-sal mekaar nie in tronk gooi nie

Misky ·

Almal van hulle het ‘n vinger in die “pie” gehad en ons soek niks minder as oranje oorpakke vir hulle nie. En verkoop alle bates en verhaal soveel moontlik geld van hulle.

SomeOne ·

wat ‘n groot grap, die anc at die anc aan, vat die anc aan, vat d…………….lol, lmga

Harry ·

Een van Nelson Mandela se debatspunte voor die 1994 verkiesing was dat sy party die ANC hulle nooit aan sulke bedrog sal blootstel en deelneem soos wat die NP hulle aan skuldig gemaak het nie!! Sooooo wat is nuut? Die verskil moet net wees. Vonnis en straf die oortreders! Dis al hoe die regte dinge begin te gebeur.

Mariana ·

En ek glo hierdie dinge het plaasgevind reg onder die top se neuse. Laat my nie veetel dat niemand niks geweet het nie. Ek stem die heke spul moet betaal vir wat hulle aan hierdie land gedoen het. Die Guptas moet ook verantwoording doen, maar bly nog steeds rustig in hul paleise. Lag seker ook lekker in hul mou vir die spul innosele kaders.

Nie Verbaas ·

My vraag bly staan. Ramaphosa was aan Zuma se sy. Hoe is dit moontlik dat hy van niks geweet het nie? Of benodig hy dalk n gidshond?

Daniel ·

Ek glo nie een van hulle sal agter tralies beland, die Zondo kommissie was ‘n mors van geld!

Nie Verbaas ·

Stem. PPE verslag nou al maande by Ramaphosa en wie is al gearresteer? Magashule loop ook nog vry rond en so ook Malema.

domheks ·

Rama is net so skuldig soos die vrot klomp in die verslag! Waar kom sy miljarde vandaan?
Rama het die kaders ontplooi….

Michael ·

Niks sal gebeur nie. Die ANC is die staatskapers nie die Guptas of Zuma nie. Mense sal nog besef dat die grootste staatskaper CR is en was. Al sy lofsangers gaan nog lang trane huil-hy is tans die gevaarlikste persoon vir ons sg demokrasie

Pieter J ·

As alle ANC lede wat bedrog gepleeg het op al drie regeringsvlakke moet verwyder word sal daar wynig oorbly. Dit geld vanaf CR tot by die laagste rang op munisipale vlak.

Lillian ·

Dis, maklik om nou vingers te wys maar almal in die regering was maar hand om die blaas met daai 3 dik Gupta broers en hul gades.

Ontnugterde senior ·

Wag tot die verslag oor eskom uitkom. Dit gaan die beste riller van die jaar wees. Oscar materiaal!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.