Verslaggewer in vangwa geboender; skieter nog soek

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy diep kommer uitgespreek oor die inhegtenisneming van ʼn verslaggewer Dinsdag in die Paarl.

Lise Beyers, redakteur van Paarl Post, het gesê die nuuskantoor het ʼn oproep ontvang oor ʼn skietery by die Hugenote-stasie in die Paarl waar ʼn taxibestuurder doodgeskiet is. Sy het twee verslaggewers na die toneel gestuur.

Die gebied was nog nie met polisielint afgesper nie en een van die verslaggewers, asook verskeie lede van die publiek met selfone, het op ʼn afstand foto’s geneem.

Beyers sê die polisiebeampte het slegs die verslaggewer verbied om foto’s te neem. Hy is volgens haar geboelie om sommige van sy foto’s te wis, maar toe hy verseg om sy kamera te oorhandig, is hy agterin ʼn polisievangwa geboender.

Beyers het eindelik sy vrylating bewerkstellig, maar die polisie het glo voortgegaan om die tweede verslaggewer te teister. Sy is onder meer verhoed om met ooggetuies te gesels.

Beyers sê die polisie se optrede maak inbreuk op verslaggewers se reg om hul werk te doen en skend hul basiese regte. “My verslaggewers is goed opgelei en deeglik bewus van hoe om op misdaadtonele te werk te gaan en nie die polisiekordon verby te steek nie.”

Sy voer ook aan dié beweerde teistering is ʼn neiging in die omgewing en dat verslaggewers voorheen op verskeie tonele verhoed is om hul werk te doen.

Sanef sê hy glo dit is ʼn verslaggewer se reg om misdaadtonele binne die voorgeskrewe bepalings te dek. Die organisasie sê ook dit is belangrik dat polisielede ingelig is oor die rol van die media.

Sanef het in September met die kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, vergader om kwessies soos dié met hom te bespreek. Die situasie het ná die vergadering verbeter, maar probleme steek nou weer kop uit, het Sanef gesê.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die motief vir die taxibestuurder (34) se moord is nog nie bekend nie en vorm deel van die ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die moontlikheid dat die skietery met ʼn ander moord in Paarl-Oos verbind word, kan ook nie uitgesluit word nie, het Van Wyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ons mag net weet wat die regering wil hê ons kan weet. Hoekom is daar geen berigte tov die fiasko verlede week waar die weermag op die strand met hul voertuie gestrand was na ‘n vertoning nie?

Ivan ·

Die verslaggewers is voor die polisie daar. Regtig…… dan moet die polisie wakker skrik en sorg dat hulle eerste daar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.