Verslaggewers glo deur polisie geteister

Joernalis neem foto (Foto: Argief)

ʼn Verslaggewer is glo Sondag deur ʼn metropolisiebeampte aangerand toe hy verslag moes lewer oor die verwydering van die vlugtelinge wat al sowat vyf maande lank op Groentemarkplein in Kaapstad plak.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Wesley Fester, ʼn vryskutverslaggewer, afgeneem hoe Athi Mthongana, ʼn verslaggewer van Newzroom Afrika, deur ʼn Kaapstadse metropolisiebeampte rondgestoot en geteister word. Ander joernaliste op die toneel se toerusting is glo ook in die geskarrel beskadig.

Volgens Sanef is nóg ʼn voorval aangemeld, waar ʼn polisiebeampte verlede week die parlementêre verslaggewer en fotograaf, Jan Gerber, met geweld probeer keer het om gebeure buite die parlement af te neem. Volgens Sanef wou Gerber afneem hoe die polisie John Steenhuisen, die waarnemende DA-leier, probeer keer om die parlement net voor die begrotingsrede te betree.

Gerber, ʼn News24-joernalis, was besig om dié voorval op sy selfoon af te neem toe ʼn polisiebeampte hom konfronteer en sê dat hy sy foon moet afskakel omdat hy nie “geregtig” is om ʼn video te neem nie. Op die video het die betrokke beampte sy foon probeer wegstamp.

Sanef het sy ongelukkigheid uitgespreek oor die polisiebeamptes se gedrag teenoor die verslaggewers in albei voorvalle en is bekommerd omdat dit blyk dat hierdie soort voorvalle toeneem.

“Ingevolge die polisie se staande bevel 156 mag geen polisiebeampte ʼn lid van die media verhinder om foto’s te neem of beeldmateriaal op te neem nie. Sanef versoek interne dissiplinêre optrede teen die metropolisiebeampte en die lede van die polisie wat dié wet oortree. Hulle moet ook verduidelik waarom hulle die media probeer sensor het,” sê Sanef.

Sanef doen ʼn beroep op die ministers van polisie, asook die justisie en korrektiewe dienste om te verseker dat alle staatsbeamptes, veral lede van die polisie en metropolisie, joernaliste beskerm en hierdie skending van die Grondwet hokslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Maak aanranding sake teen hulle oop en dagvaar die rook uit hulle in persoonlike hoedanigheid . Dis al wat hulle verstaan .

Maria ·

“Ingevolge die polisie se staande bevel 156 mag geen polisiebeampte ʼn lid van die media verhinder om foto’s te neem of beeldmateriaal op te neem nie. ” Dankie, sal dit onthou.

david ·

Dit lyk asof dit nie net Tshwane se brigade wat Magsdronk is nie…! Darem eienaardig wat ‘n uniform aan ‘n mens kan doen..!Watter stede/dorpe.metro’s kan spog dat hulle uniformdraers BEHOORLIK opgelei is ..?
O ja..dan is daar nog die provinsiale patrollies ook..en mens praat nie van die Bloulig brigade nie…!

Pieter J ·

Ek vermoed dat ń groot deel van die publiek het nie baie simpatie met joernaliste nie omdat hulle duidelik ń versteekte agenda het en nie baie onafhanklik is in hulle beriggewing nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.