Die verdere verslapping van die land se afsonderingsregulasies word verwelkom, maar sommige politieke partye en organisasies meen pres. Cyril Ramaphosa kon nóg meer doen.
“Dit is ’n stap in die regte rigting, maar nie genoeg nie,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, nadat Ramaphosa Dinsdagaand verskeie veranderinge aan vlak 1 van die regulasies aangekondig het.
Van die veranderinge behels dat die dra van gesigmaskers in die buitelug voortaan nie meer verpligtend sal wees nie, terwyl meer mense toegelaat sal word om byeenkomste by te woon.
Volgens Ramaphosa sal die nasionale ramptoestand ook opgehef word sodra openbare kommentaar oor die voorgestelde gesondheidsregulasies afgehandel is. Lede van die publiek het kans tot Vrydag 15 April om kommentaar op of vertoë oor die voorgestelde regulasies in te dien.
Die regering word egter daarvan beskuldig dat hy die ramptoestand wil behou deur die nuwe gesondheidsregulasies.
“Die voorgestelde gesondheidsregulasies is strenger as die nuwe regulasies wat die president aangekondig het. Hulle wil deur gesondheidsregulasies tydelike magte permanent maak en abnormale magte in normale omstandighede behou,” sê Buys.
Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê op sy beurt Ramaphosa se aankondigings is misleidend. “Wat hy sê, is dat die pandemie later nie meer deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake onder die Rampbestuurswet gereguleer sal word nie, maar deur die minister van gesondheid onder die Wet op Gesondheid.”
Volgens Groenewald sal die afsonderingsregulasies dus steeds afhang van die regering se wense en misbruik van mag. “Daar word nou insette van lede van die publiek gevra, maar die minister van gesondheid kan besluit of hy hom daaraan wil steur of nie.”
Siviwe Gwarube, woordvoerder van die DA, sê Ramaphosa het enkele welkome veranderinge aangekondig, hoewel dié veranderinge “nie ver genoeg strek nie en die land terughou van volkome [ekonomiese] herstel”.
“Die reëls maak geen sin nie, aangesien die land sukkel met rekordvlakke van werkloosheid, armoede en stygende voedselpryse, maar geen Covid-19-druk op ons hospitale nie.
Buys meen die Covid-19-pandemie is nou endemies en moet só hanteer word.
Die Solidariteit Beweging beoog om ’n alliansie van burgerlike organisasies te vorm om dele van die nuwe gesondheidsregulasies, wat die regering beoog om in te stel, uit te daag.
“Ons sal verskeie organisasies oor ’n breë spektrum vra om kommentare in te dien. Indien die regering voortgaan om onnatuurlike magte in gesondheidsregulasies te vervat, sal ons ’n gekoördineerde litigasiepoging aanpak.”
Solidariteit en AfriForum het reeds aangedui hulle gaan kommentare indien en litigasie oorweeg.
Die organisasies het ook reeds met ’n regsproses begin om die ramptoestand te beëindig. “Die proses wat die regering nou volg, kan nog maande duur en skep steeds onsekerheid met te veel mag in die hand van die regering,” sê Buys.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
Eendag sal die waarheid oor hierdie “pandemic” uitkom.
Aleksandr Solzhenitsyn:
“We know they are lying; they know they are lying; they know we know they are lying; we know they know we know they are lying; but they are still lying”.
Magsbehepte,korupte klomp gemors
Hoop jy het die hoed voelverskrikker se toestemming gevra met jou uitlatings
Klug die virus
Watter verslapping??????????