Versoek om nepotisme by Fort Hare, US te ondersoek

(Foto: Facebook / Fort Hare University)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding Donderdag skriftelik versoek om ʼn dringende parlementêre ondersoek na bewerings van nepotisme by hoër onderwysinstellings aan te vra. Dit volg ná verontrustende berigte van diepgewortelde nepotismepraktyke in ten minste twee van die land se openbare universiteite: Fort Hare en Stellenbosch.

“In die geval van Fort Hare het die voorblad van ʼn bekende Sondagpublikasie verlede week nepotisme as ʼn ‘fyn kuns’ beskryf,” sê Chantel King, die DA se skaduminister vir hoër onderwys.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek tans nepotisme waarby ʼn voormalige dekaan van die Fakulteit Wetenskap en Landbou sowel as ‘n voormalige koshuisbestuurder betrek word. “In die geval van die voormalige dekaan word daar beweer dat sy haar invloed gebruik het om weer haar seun in ‘n akademiese program te kry nadat hy vir swak akademiese prestasie gediskwalifiseer is.”

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

In die geval van die Universiteit Stellenbosch het ‘n fluitjieblaser soortgelyke bewerings van nepotisme teen die rektor ingedien nadat hy na bewering twee van sy familielede toegang gegee het om medies te studeer, alhoewel hulle nie op verdienste gekwalifiseer het nie.

“Nepotisme hou ʼn bestaansbedreiging in vir die tersiêre onderwysbedryf, omdat dit beide akademiese uitnemendheid en die bemagtiging van studente uit benadeelde agtergronde ondermyn,” voeg King by. “Deur familieverhoudings ‘n beslissende kriterium vir toelating tot die universiteit te maak, kom nepotisme neer op ‘n vorm van korrupsie en onregverdige diskriminasie teen alle ander aansoekers wat in die proses benadeel word.”

King sê die feit dat twee van ons mees prominente universiteite tans in nepotismeskandale gewikkel is, vereis dringende optrede van die parlement.

“Die DA het dus versoek dat die portefeuljekomitee ‘n dringende ondersoek na hierdie saak onderneem. Dit moet die betrokke persone van Fort Hare en Stellenbosch insluit wat aan die parlement rekenskap moet gee, sowel as om die volle omvang van nepotistiese toelatings reg oor Suid-Afrikaanse openbare universiteite te ondersoek.”

Naas die versoek om ‘n dringende ondersoek, sal die DA volgende week toesig uitoefen by Fort Hare-universiteit om onrusbarende aantygings, insluitend korrupsie en nepotisme, te ondersoek.

“ʼn Goeie voorbeeld van hoe só krisis hanteer moet word, kom uit Australië waar ʼn volledige ondersoek na soortgelyke voorvalle van nepotisme by die Universiteit van Queensland ʼn dekade gelede van stapel gestuur is. Die ondersoek het uiteindelik tot besliste optrede gelei om nepotisme te takel, insluitend die ontslag van die betrokke persone sowel as wetgewende hervorming. Die ernstige beskuldigings van nepotisme by beide Fort Hare en Stellenbosch vereis soortgelyke beslissende optrede van ons parlement.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Prof.Wim vra al lankal om die trekpas gegee te word maar hy speel so reg in die ANC se hande met sy omstrede taalbeleid wat Afrikaans aanbetref en toe die diskriminasie op die lappe kom ontken hy alles.Raak nou ontslae van die man met sy colgate advertensie tande.

Rina ·

DA hoekom net op Wim toespits, orals van die parlement eskom transnet ens ens gaan dit so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.