Versoek om wantrouemosie te vervroeg glo geweier

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Speaker Baleka Mbete het glo die EFF se versoek dat die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma vroeër aangehoor word, geweier.

Mbete het die mosie van wantroue vir 22 Februarie geskeduleer, ʼn dag ná die begrotingsrede gelewer word. Die EFF het aanvanklik versoek dat die mosie voor die staatsrede aangehoor word. Die staatsrede is egter uitgestel.

Die EFF het hierna versoek dat die mosie vir vroeër geskeduleer word, terwyl Cyril Ramaphosa, president van die ANC, en Zuma in gesprekke is oor laasgenoemde se toekoms as president van die land.

Die DA het vroeër gesê dat indien Zuma nie teen Sondag verwyder is nie, hy ook sal versoek dat die mosie vervroeg word. John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het gesê die kwessie moet opgelos word sodat Ramaphosa verkies kan word en die staatsrede kan lewer voor die begrotingsrede op 21 Februarie.

Die ANC hou intussen Maandagmiddag ʼn spesiale vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) waar daar glo oor Zuma se toekoms besluit sal word.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het verlede week tydens ʼn mediakonferensie gesê ʼn mosie van wantroue is nie wenslik nie.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, het vroeër aan Maroela Media gesê nog ʼn mosie van wantroue in Zuma is nie nou realistiese politiek nie. “Die ANC sal nooit toelaat dat die EFF so ʼn soort oorwinning behaal nie, daarvoor is daar net te veel van ʼn intense kompetisie tussen die twee politieke partye.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ek sê maar ·

Zuma wil nie waai nie want hy wil EERS die kernooreenkoms met Rusland laat gebeur. Hy weet hy gaan in groot moeilikheid by die Russe wees sou dit skeefloop/nie afkom nie. Hulle vat nie nonsens nie. Hy sal aanghang en vasbyt en as sy tande uitval sal hy vassuig maar bo en behalwe dat hy vir oulaas wil VAT is dit nog hierdie storie ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.