Versoek vir druk op premier ná Lesufi se uitlatings

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. (Foto: Jacques Naude/ANA)

AfriForum het vandag in ’n skrywe aan die Gautengse wetgewer versoek dat druk op David Makhura, die premier van Gauteng, geplaas word om op te tree teen Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Dit volg nadat Lesufi na bewering tydens ’n vergadering stellings gemaak het wat daarop dui dat hy inmenging in tenderprosesse aanmoedig.

Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, kan die provinsiale wetgewer, by magte van die Grondwet, ’n provinsiale premier verkies en hom ook uit sy amp verwyder sou ’n premier onder meer ongeskik wees om die funksies van sy kantoor uit te voer.

“Hierdie funksies sluit in dat ’n premier moet toesien dat sy uitvoerende raad, wat die kantoor van die LUR van onderwys insluit, hul funksies na behore uitvoer. Makhura het egter enkele dae nadat die opname van Lesufi se uitlatings aan die lig gekom het, sy ondersteuning vir Lesufi uitgespreek en gesê dat hy geen planne het om Lesufi af te dank nie. Makhura kon kwalik binne hierdie tydperk ’n behoorlike ondersoek na die opname gedoen het en dit laat rooi vlaggies opduik oor waarom hy Lesufi sonder enige huiwering beskerm,” het Venter bygevoeg.

Dit het verder vroeër vanjaar aan die lig gekom dat R431 miljoen binne drie maande deur die Gautengse onderwysdepartement bestee is aan die reiniging en ontsmetting van skole en fasiliteite in dié provinsie deur diensverskaffers oor wie se geskiktheid groot vraagtekens hang.

“Lesufi het hierop gereageer deur te sê dat hy geskok is oor die klaarblyklike wanbesteding van belastinggeld wat daarop dui dat hy geen idee het van wat in sy departement aangaan nie. AfriForum het in hierdie geval ook Lesufi se bedanking geëis, maar dit blyk dat die premier weereens in hierdie geval nie beplan om teen hom op te tree nie.”

AfriForum voer verder in hul skrywe aan dat Lesufi se geskiedenis wat die bestuur van sy departement betref, veel te wense oorlaat. “Ons het hierdie gebreke (onder meer die wanbesteding, gebrek aan gehalteskole, asook die chaos wat daar elke jaar in die provinsie met die plasings van leerders in skole is) al in die verlede onder die premier se aandag gebring, maar dit blyk dat hy steeds versuim om daadwerklik teen Lesufi op te tree.

“Gegewe die ernstige bewerings teen Lesufi, asook dat hy in beheer is van ’n departement wat getaak is met die uitvoering van kinders se reg op onderwys, hoop ons dat die Gautengse wetgewer die nodige druk op Makhura sal uitoefen om stappe teen Lesufi te neem,” het Venter gesê.

Intussen het Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, gesê sy party gaan die openbare beskermer (OB) en Menseregtekommissie (MRK) nader om Lesufi se tender-uitsprake te ondersoek.

Die party het reeds ‘n ondersoek in proses by die OB rakende die onderwysdepartement se tenders vir die ontsmetting en ‘diep skoonmaak’ van openbare skole verlede jaar en gaan die jongste onthullings oor Lesufi ook by die OB indien vir ondersoek teen die agtergrond van dié problematiese tenders.

“Voorts blyk dit dat die beweerde uitsprake van Lesufi tydens ‘n vergadering met verskillende swart rolspelers ook verdelend is aangesien daar sprake is van vooroordeel ten gunste van sekere rassegroepe teen ander. Op grond hiervan word die klag by die MRK ingedien,” het Alberts bygevoeg.

Openbare tenders mag nie gebruik word om net sekere groepe te bevoordeel nie en moet in terme van bestaande regsnorme hanteer word.

“Die uitsprake wat Lesufi luidens ‘n berig in City Press gemaak het, dui daarop dat hy diegene wat ‘sy mense’ uitmaak, sal help met tenders. Sou hierdie uitsprake korrek wees, moet Lesufi uit sy pos verwyder word. Die VF Plus sal die ondersoeke monitor en druk op premier David Makhura plaas om Lesufi af te dank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Lesufi is ‘n politieke aanstelling, definitief nie op meriete nie. Onaantasbaar, en die Gautengse onderwys ly daar onder…

daniel

Daar is sekere mense wat dit normaal ag om minderheid groepe se belasting geld gewetenloos vir hul eie kriminele doel aan te wend.

Nie Verbaas

En so vernietig die ANC die land sonder gewete met onbevoegdes in hoe posisies. Dit bewys net weer dat dit net oor individue gaan en nie oor die voordeel van die land se inwoners nie. Hulle sal dit aanhou doen want nog nie een is agter tralies nie. Hulle weet dat niks sal gebeur nie.

Boer

Soos met almal van hulle gaan daar niks kom nie.

Chris dupreez

Hulle is kop in een mus, en Lesufi is hoër op in die anc as david makura, so daar sal niks gebeur.