‘Versorgingsinstansie steeds oop nadat psigiatriese pasiënte sterf’

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng.

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Vrydag gesê dat Precious Angels, ʼn nie-regeringsorganisasie in Pretoria wat glo verbind word met die dood van agt psigiatriese pasiënte wat in die organisasie se sorg was, steeds oop is en dienste lewer.

Dit het vroeër vandeesweek aan die lig gekom dat 36 van net meer as 2 000 psigiatriese pasiënte in Gauteng dood is nadat hulle van Lifehealth Care Esidimeni na NRO’s oorgeplaas is. Volgens DA-LP Jack Bloom het Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, bevestig van die pasiënte is oorgeplaas na die instansie Precious Angels in Atteridgeville.

Bloom het gesê volgens berigte is agt van die pasiënte wat dood is na Precious Angels oorgeplaas. “Dit blyk dat agt van die pasiënte dood is terwyl hulle in Precious Angels se sorg was, insluitende die 50-jarige Virginia Machpelah, wie se suster eers tien dae nadat sy gesterf het van haar dood ingelig is,” het Bloom gesê.

“Precious Angels is eers in Junie vanjaar as ʼn NRO geregistreer, kort voordat hulle pasiënte vanaf Life Healthcare Esidimeni ontvang het.” Bloom het gesê die departement van gesondheid moet dringend antwoorde gee hoekom pasiënte steeds by ʼn NRO behandel word “waar so baie pasiënte al gesterf het”.

Die Gautengse departement van gesondheid het op ʼn versoek vir kommentaar gesê die saak word deur die gesondheidsombudsman ondersoek. ʼn Woordvoerder by Precious Angels, wat haarself slegs as Esther wou identifiseer, het geweier om enige vrae te beantwoord en slegs gesê “geen kommentaar”.

Mahlangu het verlede jaar Oktober gesê die langtermyn kontrak met Life Healthcare Esidimeni het onbekostigbaar geraak en moes noodgedwonge gekanselleer word, wat veroorsaak het dat pasiënte na verskeie NRO’s oorgeplaas moes word. Volgens die LUR het die provinsie in 2014/15 soveel as R323 miljoen bestee om 2 378 pasiënte by private fasiliteite te versorg.

Mahlangu het Woensdag gesê die dood van die pasiënte kan nie met hul oorplasing na ander fasiliteite verbind word nie, maar het gesê die departement sal die saak ondersoek. Sy het bygevoeg gesondheidsrekords van die pasiënte is van Life Healthcare Esidimeni aangevra as deel van die ondersoek.

Die DA het na aanleiding van die pasiënte se dood gesê Mahlangu moet bedank aangesien die pasiënte wat dood is “oorgeplaas is na NRO’s wat nie geskik was om hulle te versorg nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan Britz ·

Ek wonder nou so in my stilligheid of mev Mahlangu nie dalk aandele in sommige van die NRO’s het nie.

christine ·

Jan as die vrou aandele gehad het sou haar pasiente nog gelewe het. Mens maak nie die gans dood wat die eiers le nie. Neehier gaan nog n ding uitspring. Want jy plaas net nie pasiente oor sonders verslae en leers nie. Die mense was sielkundige pasiente wat uit beheer gaan raak sonder hulle pille. Party is manies siek, ek dink hier gaan n storie ontvou soos ons nog nooit van gehoor het nie.

jaco ·

Dis hoe regstellende aksie lyk. Niemand weet meer hoe om Eintlik die werk te doen nie, want hulle het werk gekry NET omdat hulle velkleur “reg” is. Hier is net 8 psigiatriese patiënte dood, maar WAT gaan gebeur as ‘n regstellende aksie aangestelde persoon by Koeberg kernkragstasie die verkeerde knoppie druk??? 3.7MILJOEN mense in Kaapstad se lewens word dan bedreig.

Lance ·

Ag sy gaan maar net soos al die ander wegkom …sy gaan se ” Sorry , I did not know ” Dis maligheid om mense net so te verplaas ..wat gaan aan in die mense se koppe wonder mens …

Foxi ·

Kan jy nou dit glo…….plek is nog steeds oop? Nou gaan jy uitstekende diens sien!
Die beste ooit!

Albert Marais ·

Ek kan met vertroue se hoe goed Life Health Groep na hierdie mense omsien.Ek het persoonlik maande lank as kontrakteur in verskeie van hul instansies werk verrig. Die profesionele diens wat hierdie personeel verrig, is van die beste wat ek nog teegekom het. Ek haal my hoede af vir hulle.Met alle respek gese, dis n baie moeilike taak om met die pasiente te werk.
Hoe op dees aarde die Mahlangu dit ooit kon oorweeg om die pasiente na onopgeleide NRO’s te stuur wys maar net eenvoudig wat in hulle koppe aan gaan ( of nie aangaan nie)

tinah ·

MAAK SOMME:
R135 828.42, die die bedrag: gemiddeld per jaar per pasient as jy die 2378 pasiente vat en 323 miljoen bereken? nee magtig, dis wanadministrasie en dan word daardie wanadministrasie uitgepos na NRO toe waar die mense dan sterf, nee is reg krap oop, krap oop, begin sommer terug by waar die mense was voor hulle geskuif het,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.