Verspreiding van Ooskuskoors in SA ‘kan katastrofies wees’

Foto ter illustrasie.

ʼn Kenner in dieregesondheid waarsku dat Ooskuskoors, ʼn siekte wat meer as 65 jaar gelede al in Suid-Afrika uitgeroei is, nou weer ʼn ernstige bedreiging vir die gesondheid van die nasionale kudde, voedselsekerheid en die ekonomiese welvaart van veral kleinboere inhou.

Dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van Afrivet, waarsku dat die uitbreking van Ooskuskoors in Zimbabwe reeds tot die vrekte van 55 000 beeste gelei het. Hy sê dit is rede tot ernstige kommer in Suid-Afrika en dat die land daadwerklik daarteen moet optree.

“Ons land se sukses in die uitroei van Ooskuskoors 65 jaar gelede was ’n kombinasie van streng beheer oor die verskuiwing van beeste, veral waar beeste en wild na aan mekaar is, ’n 5-4-4-dipprogram, kwarantynmaatstawwe en die slag van besmette diere sonder uitsondering,” het Oberem gesê.

“Maar die belangrikste deel was dat die regering ernstig was oor die implementering van beheermaatreëls en omdat vee-eienaars hul volle samewerking gegee het.”

Oberem sê ʼn soortgelyke poging is nodig om Ooskuskoors weer te stuit, maar dat daar in dié stadium min tekens van ʼn grootse poging is.

“Die tragiese stand van sake in Zimbabwe hou ’n enorme bedreiging vir Suid-Afrikaanse vee-eienaars in.

“Die bruinoorbosluis, die primêre draer van Ooskuskoors, is wydverspreid in die warmer, natter noordelike en oostelike dele van die land, terwyl ander bruinbosluise wat ook die siekte versprei, veral in Limpopo voorkom. Al wat nodig is, is vir een besmette bees of buffel, hetsy reeds siek of net ’n draer, om die grens vanaf Zimbabwe oor te steek. Plaaslike bosluise wat op daardie dier teer, sal ook besmet raak en die siekte weer oordra aan die ander diere waarop hulle teer. Elke besmette dier infekteer dan weer ander bosluise wat op hom of haar teer, en so versprei die siekte,” het Oberem gesê.

Hy waarsku omdat Ooskuskoors al in 1954 in Suid-Afrika uitgeroei is, is die land se beeste hoogs vatbaar daarvoor.

“Ons kan dus verwag dat Ooskuskoors uiters vinnig sal versprei met hoë vrektesyfers wanneer dit na die land versprei. Sulke enorme veeverliese sal ’n katastrofiese impak in veral die armer landelike gebiede hê, waar gemeenskappe van hul vee afhanklik is vir oorlewing – ’n soortgelyke situasie as wat tans Zimbabwe afspeel.”

Hy sê die regering en vee-eienaars sal nou moet saamwerk om dié tragedie te keer. Grensdrade moet herstel en gemonitor word en die departement van landbou moet proaktief toegang tot die nodige veemiddels verseker deur produkte te registreer en te verseker daar is genoeg hoeveelhede beskikbaar.

“Tot dusver is dit nie toegelaat nie. Die gevolg is dat ons vir noodregistrasies sal moet aansoek doen sodat produkte ingevoer kan word wanneer Ooskuskoors reeds posgevat het.

“Die situasie word verder gekompliseer deur die feit dat ons nog nie weet of beeste of buffels die draers was van die Ooskuskoors- genetiese vorm van die siekte wat die uitbreking in Zimbabwe veroorsaak het nie. Die beheermaatreëls vir die verskillende genetiese vorme is nie dieselfde nie,” het Oberem gesê.

Hy sê boere in hoërisikogebiede moet behoorlik ingelig word oor die bedreiging, asook oor die voorkomings- en aanmeldingsmaatreëls wat hulle moet implementeer. Hy waarsku dat plaaslike spesies vrektekoerse van tot 40% het, terwyl tot 100% van eksotiese spesies weens die siekte kan vrek.

“Ons moet uit Zimbabwe se ervaring leer. Die meeste van die vee-eienaars in daardie land se geaffekteerde gebiede is werkloos en kla oor die onbeskikbaarheid van beesdip, die koste van veterinêre produkte, dipgeld, betaling vir veewagters, waterskaarste, stukkende infrastruktuur en ʼn  algemene gebrek aan veterinêre dienste in die landelike gebiede.

(Foto: LekkeSlaap)

“Suid-Afrika kan en moet beter doen – ons het Ooskuskoors vantevore verslaan. Die verantwoordelike owerhede en vee-eienaars moet almal kennis neem en betyds optree in die gees van ‘thuma mina’ (stuur my) en ‘ma’zenethole’ (mag jou koei kalf).”

Oberem sê Ooskuskoors het twee besmettingsbronne: beeste en buffels. Buffels is natuurlike draers van Ooskuskoors, wat in Suid-Afrika algemeen bekend staan as korridorsiekte en buffels in die Krugerwildtuin kan onder meer die siekte hê.

Hy sê aangesien buffelverwante Ooskuskoors steeds ʼn werklikheid is – veral in gebiede waar beeste en buffels met mekaar in aanraking kom – dwing Suid-Afrika streng maatreëls af wat betref die verskuiwing van buffels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert van Wierdapark

Ons moet asb net nie wag dat die regering sal wakker skrik nie – want dan is dit klaar te laat!!! M/Media jul moet asb sorg dat die Kenner se boodskap WYD uitgedra word, sodat ‘n moontlike katastrofe verhoed kan word!!

Hansmyt.eeiskoud

Maar die wetters soek grond… En geld… En dipstof… En wat nog! Regte bosluis mentaliteit…wil alles hê en dan staan ons bakhand om nog te bedel! Parasietane!

Wessel

Wie sou nou kon dink dat Zimbabwe nog so baie beeste het. 55000 reeds dood.??

Gaitsigubib

Vir n buffel om “skoon” gesertifiseer te wees het n veearts hom reeds teen korridorsiekte en Tb getoets. Diere in die trust gebiede en in die Kruger park is almal vrot van die TB wat n gevaar inhou vir aangrensende boere en die gemeenskap. Onder druk van die greenys wat diere in aanhouding afgetakel wil he is dit geen wonder die siektes keer nou terug nie. Hulle onkunde het n negatiewe impak op mak en wilde diere.

Swanna

As daar nie eers beheer oor die twee been gediertes is nie sal hierdie siekte ook nie gekeer of voorkom word nie