‘Versteekte’ verslag oor stropery in KZN gedeeltelik bekend

(Foto: John Hume)

ʼn “Versteekte verslag” verslag oor renosterstropery waarvoor ses jaar gelede reeds opdrag gegee is en volgens die DA die afgelope paar jaar deur die kantoor van die premier agter slot en grendel gehou is, is eindelik gedeeltelik beskikbaar.

Die provinsie loop deur onder ʼn vlaag aanvalle wat net die afgelope jaar al tot die stroop van 110 renosters gelei het. Dit is reeds meer as die 102 renosters wat in 2021 in KwaZulu-Natal gestroop is.

Heinz de Boer, die DA se woordvoerder vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (EDTEA) in KwaZulu-Natal, sê die verslag is gedeeltelik bekend gemaak nadat die DA ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) daarvoor ingedien het.

“Die DA glo die gedeeltelike bekendmaking van die verslag is ʼn belangrike stap om sin te maak van die vlaag stropery in ons provinsie,” sê hy.

Die verslag van 54 bladsye ondersoek onder meer die uitwerking van kwaai begrotingsbesnoeiings en maak talle aanbevelings oor hoe om die vlaag stropery te probeer stuit.

“Ezemvelo KZN Wildlife, ʼn organisasie wie se voorganger, die Natalse Parkeraad, erken is as wêreldleier op bewaringsgebied, het ʼn skaduwee van sy ou self geword. Die Natalse Parkeraad het internasionale erkenning verwerf vir sy pogings, onder leiding van die legendariese dr. Ian Player, om die witrenoster van uitwissing in die 1960’s te red,” lui die inleiding tot die verslag.

“Ongekende vlakke van stropery van die kritiek bedreigde swart- (Dicero bicornis) en witrenoster (Caratotherium simum simum) het Ezemvelo in die onlangse verlede in die gesig gestaar. Renosterstropery op die huidige vlakke kan die erfenis waarvoor die organisasie beroemd is, sowel as die einste spesie wat die organisasie gered het, verwoes.”

Die verslag is reeds twee jaar gelede aan die kantoor van die premier oorhandig.

KwaZulu-Natalse bewaringsowerhede het egter net onlangs weer gesê hulle is diep bekommerd oor die getal renosters wat al vanjaar gestroop is – dít terwyl hordes meer voorvalle aangemeld is waar die doodmaak van renosters minstens gekeer kon word.

“Die DA glo daar moes dadelik opgetree geword het oor enige sensitiewe anti-stropery bevindings in die verslag,” sê De Boer.

Die DA sal die verslag nou bestudeer en sal dan ʼn beter begrip hê of die bevindings nou verouderd is. Daarna sal op die pad vorentoe besluit word.

De Boer sê dit is ook belangrik dat die departement dadelik bykomende finansiering vind om meer wildbewaarders aan te stel en hulle behoorlik toe te rus. Permanente taakspanne moet aangewys word om stroperysindikate te pak en ʼn openbare en deursigtige stelsel waar voorvalle in Ezemvelo se parke aangemeld kan word, moet op die been gebring word.

“ʼn Breër prentjie van die stryd in die parke is belangrik vir die provinsiale regering, nie-regeringsorganisasies en die KwaZulu-Natalse publiek om die lot van die spesies te verstaan. Die DA gaan voort om te stry vir die bekendmaking van die volledige verslag,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jedi Knight ·

Ek het nie n saak met die DA of die VF nie, maar wat doen die VF deesdae? Bestaan hulle ooit nog? Dit lyk (klink) asof hulle nêrens betrokke is nie. In amper alle berigte is dit net die DA wat iets sê of doen.

Chris dupreez ·

Daar moet dieper ondersoeke gedoen word na renoster stropery, veral in Natal. Wie almal daarby betrokke is en hoekom die verslag weggesteek word. Wie trek almal voordeel uit die stropery

Marius ·

Dit bewys maar net hoe slap en lamsakkig die regering is. Baie amptenare is betrokke by hierdie stropery van ons natuur en wildlewe en solank hul geld daaruit kry sal hul anderkant toe kyk. Patete !!!!

Di ·

Die premiers is min gepla wat met ons wild gebeur! Hulle te besig om ander dinge aan te vang nes hulle kaders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.