Versteurde pasiënt brand ná afsondering

Die pasiënt is alleen in ’n saal in die Wentworth-hospitaal in Durban opgesluit. Foto: KZN-gesondheidsdepartement

ʼn Geestelik versteurde pasiënt is met brandwonde aangetref nadat hy alleen in ʼn saal van die Wentworth-hospitaal in Durban opgesluit is, sê die IVP.

Ncamisile Nkwanyana, die IVP se gesondheidswoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê stappe moet dringend gedoen word teen mediese personeel wat geestelik versteurde pasiënte in gesondheidsorginstellings afskeep.

“Die verwaarlosing van sulke pasiënte is ʼn ernstige bekommernis. Wangedrag, onbevoegdheid en nalatigheid hoort nie in ons gesondheidsorgstelsel nie en daar moet drasties opgetree word teen enigeen wat daaraan skuldig bevind word.”

Nkwanyana meen die betrokke verpleegsters moet geskors en hul optrede ondersoek word, en as hulle skuldig bevind word, moet hulle afgedank word, want “ʼn gebrek aan empatie mag nie in ons gesondheidsorgstelsel geduld word nie”.

Sy sê die IVP is bekommerd oor die afwesigheid van professionaliteit in gesondheidsorginstellings en let op ʼn ineenstorting van die professionele gesondheidsorgsektor, veral in openbare instellings.

Die IVP meen dis belangrik om die stryd teen nalatige behandeling van pasiënte te verskerp en ʼn beroep op verpleegsters te doen om hul pligte behoorlik uit te voer.

“Bestuurders moet opgelei word in geestesgesondheidsbestuur, -sorg en -behandeling om te verseker dat geestesgesondheidsorg as ʼn wesenlike deel van gesondheidsorg beskou word,” sê Nkwanyana.

Ncumisa Mafunda, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê die pasiënt ontvang mediese behandeling.

Nadere besonderhede oor hoe die pasiënt die brandwonde opgedoen het of hoe lank en hoekom hy alleen opgesluit is, is nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Maak dit wetgewing dat alle regerings amptenarre , politici asook hul families slegs by staatshospitale en klinieke behandel word .

Chris du preez ·

Stappe moet geneem word. Ek stem saam. Begin sommer by die minister van gesondheid .

Bekommerde ·

Wie was laaste met die persoon in aanraking? Wie het vuurhoudjies / lighter aan persoon gegee – een van die personeel of iemand wat vir hom kom kuier het en rookgoed verskaf het? ( gedink hul doen goed)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.