Verstrengelde boggelrugwalvis in Oos-Kaap gered

Foto: SAWDN

ʼn Nege meter lange boggelrugwalvis, wat verstrengel geraak het, is Maandag by Kowieriviermond in Port Alfred in die Oos-Kaap gered.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse walvis-ontknopingsnetwerk (SAWDN), het gesê ʼn vragskip het Sondag aangedui dat ʼn walvis in vislyn en drywende boeie verstrengel geraak het. Die walvis is naby die kuslyn van Port Alfred opgemerk.

“SAWDN en die Nasionale Seereddingsintituut (NSRI) het dadelik ʼn soektog van stapel gestuur, maar daar was geen teken van die walvis nie en die soektog is opgeskort,” het hy verduidelik. “Vissermanne het SAWDN Maandag weer gekontak wat die walvis naby Kowieriviermond opgemerk het.”

Vrywilligers van NSRI Port Alfred het dadelik reageer. “SAWDN-lede in Port Elizabeth en Kaapstad het die Port Alfred-span van raad verskaf tydens die operasie en deurgaans die aktiwiteit gemonitor. Terwyl reëlings getref is om sny- en ander toerusting van Port Elizabeth te vervoer, het die beamptes van SAWDN en Port Alfred solank tydelike ontknopingstoerusting bymekaargemaak, omdat hulle besorg was dat die walvis weer sou wegbeweeg. Dié ontknopingstoerusting is tydens die operasie gebruik.”

Die boggelrugwalvis was verstrengel in visvangtoerusting, kreefstrikke en drywende boeie. Lambinon het gesê die operasie was sensitief en het twee uur lank geduur waartydens die walvis bevry is.

“Die walvis het swak en moeg voorgekom, maar dit wil voorkom of hy gesond is. SAWDN is vol vertroue dat dit ʼn suksesvolle ontknopingsoperasie was. Hy sal oorleef en geleidelik sy krag herwin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

RATEL ·

Knapgedaan almal! Hoop die A en C kyk hoe hardloop mens n land. Raak asb ontslae van jul kommunistiese vriende(Chin en Rus) wat ons waters so stroop. O wag. Die paashaas bestaan nie regtig nie…..

Rudolph ·

Alhoewel die oorblyfsels van visvang nette, lyne en toue verantwoordelik is vir meer as 40% van die plastiek besoedeling in die oseane bestel ons nou skielik ons Coke Light by Ocean Basket sonder ‘n strooitjie en ons wens onsself geluk met ons omgewings bewustheid. Ek wonder wat dink ‘n sterwende walvis van ons strooitjie inisiatief dink

Kobus ·

Net maar twee kante van die mens , die wat vernietig en die wat red en opruim. By watter groep is jy? Dink bietjie genoeg rommel om die Oseaan te vernietig.

MW ·

Lekker om positiewe nuus te ontvang, en van mense te hoor wat nog omgee ♥

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.