ʼn Jong Suidelike noorkapper en sy twee maats het Vrydagmiddag weer by Seepunt in Kaapstad in die diepsee verdwyn ná reddingsbeamptes die walvis gehelp het wat in vislyne en ander visvangtoerusting verstrengel geraak het.
Die Suid-Afrikaanse walvisreddingsnetwerk (SAWDN) het gesê die organisasie het omstreeks 14:30 berigte van Francois Stapelberg van African Eagle Marine Eco Tours ontvang van ʼn walvis wat ongeveer 1,5 seemyl van Seepunt verstrengel is.
Mike Meyer, woordvoerder van die SAWDN, het gesê hulle het ʼn vaartuig in die gebied herlei en daar is bevestig dat die 10 meter lange jong Suidelike Noorkapper verstrengel is. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is daarna ook ontbied om met die reddingspoging te help.
Stapelberg het SAWDN in Februarie ook in kennis gestel van dieselfde walvis, maar hulle kon hom nie opspoor nie, ondanks ʼn omvattende soektog. Dieselfde walvis is daarna drie keer opgemerk in Februarie en Maart in Table Bay, Clifton en aan die Weskus, maar die walvis kon telkens nie weer opgespoor word nie.
“Ons het ook Kaapstad se bootnetwerk versoek en een van hul lede, ook ʼn NSRI-lid, kon die walvis Vrydag opspoor met ʼn teleskoop van ʼn hoogliggende huis in Seepunt,” het Meyer bygevoeg. Nog ʼn persoon, wat op ʼn plesierrit sou gaan, het Vrydag ook aangebied om die walvis te vind.
Meyer het gesê daar was ses voorwerpe om die walvis se stert gebind wat dit onder die water ingedruk het, en dit het sake bemoeilik om die walvis vroeër op te spoor.
Hy het gesê die walvis was moeg, maar die ander twee walvisse “het by hom gebly”. “Hulle was deurgaans in die gebied en dit het bygedra tot die emosie – ons was vasbeslote om die walvis dieselfde dag nog te help bevry.”
Die walvis het tydens die operasie ʼn paar keer geduik en die nabye afstand van die twee ander walvisse het soms verwarring veroorsaak van watter betrokke walvis hulle mee werk.
“Ons kon egter binne 20 minute al die lyne en toue afsny en die visvangtoerusting en drywende boeie is uit die water gehaal om daarvan ontslae te raak,” het Meyer bygevoeg. “Die walvis en sy twee maats het in die diepsee verdwyn. Ons is vol vertroue dat hy sal oorleef en ons is regtig tevrede met ʼn suksesvolle operasie.”
SAWDN het Stapelberg geloof vir sy betrokkenheid om die walvis op te spoor.
Video verskaf deur die SAWDN:
Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie.
Welgedaan!
So lekker om goeie mense te sien goeie dinge doen!
Dankie vir die goeie nuus Maroela!
Fantasties!!!
Hoe verkwikkend om ‘n opbeurende storie te lees in pleks van die moord-en-doodslagberigte wat die siel afgestomp laat!
Dankie Maroela en plaas meer sulke stories.
Baie dankie vir julle moeite met die diere. Dis nou sommer lekker om te lees. Ons bly ook in die Kaap en walvisse is net wonderlike diere. Baie dankie weereens dat almal bereid was om te help.
Wonderlike nuus!….Soooo baie dankie aan almal!
Ja, salf vir die gemoed om sulke berigte te lees. Dankie aan al hierdie spesiale mense wat spesiale dinge doen.
Baie bly oor die goeie nuus.
Hoe lekker is dit nie om vir n slag goeie en positiewe nuus te lees.
Dankie
Gee elkeen van daardie manne ‘n Bells ! :-)
Arme walvis … Maar nou is hy darem weer vry!