Versuim om masker te dra nié ’n misdryf – kenners

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die regulasies gedurende vlak 4 van die koronavirus-afsonderingstydperk bepaal dat dit verpligtend is om ’n gesigmasker te dra wanneer jy in ʼn openbare plek is. Regskenners verduidelik dat jy egter nie beboet of in hegtenis geneem kan word indien jy nie ’n masker in die openbaar dra nie.

Jy mag wel toegang tot ’n openbare ruimte soos ’n winkel, park of bank geweier word.

Die prokureur Oelof de Meyer het aan Maroela Media verduidelik dat artikel 5 van die afsonderingsregulasies bepaal dat maskers ten alle tye in die openbaar gedra moet word.

Volgens De Meyer maak artikel 14 en 31 van dié regulasies, waarin strafbepalings uiteengesit word, egter geen melding van artikel 5 nie. Daar is dus geen straf uiteengesit vir ’n individu wat versuim om ’n masker in die openbaar te dra nie.

“Die legaliteitsbeginsel vereis dat indien die staat ’n misdryf wil skep, die staat dit duidelik as ’n misdryf moet uiteensit en ’n straf daaraan koppel,” verduidelik die prokureur Carel Taute op sy beurt.

Volgens Taute is die dra van ’n masker in die publiek dus ’n regulasie, maar die oortreding daarvan nié ’n misdryf nie. Die oortree van regulasies soos die klokreël, die verbod op die verkoop van alkohol en tabakprodukte, die vervoer van alkohol, onwettige besettings, asook die verbod op reis tussen provinsies of metro’s, is wel ’n misdryf wat gestraf kan word, verduidelik hy. Die moontlikheid bestaan egter om die geldigheid daarvan in ʼn hof te bevraagteken.

Die prokureur André Grobler verduidelik dat sou ’n persoon in hegtenis geneem word vir die versuim om ’n masker in die openbaar te dra, die aanklagte teen die persoon summier teruggetrek moet word. Geen vervolging mag plaasvind nie.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Waarom dan maskers dra?

Grobler meen dat hoewel jy nie gestraf sal word indien jy nie ’n masker dra nie, die regulasies ingestel is ter wille van die veiligheid van Suid-Afrikaners. “Jy het ’n verantwoordelikheid om jouself en ander te beskerm. Dít is waarom mense maskers in die openbaar moet dra.”

Wat geld as ’n openbare ruimte?

Bogenoemde kenners verduidelik dat enige ruimte buite jou huis as ’n openbare ruimte geld. Dit sluit winkels, banke, parke en strate in. Die regulasies bepaal dus dat Suid-Afrikaners ook maskers moet dra wanneer hulle in ’n straat gaan draf of stap.

“’n Straat is ’n openbare plek waartoe die algemene publiek toegang het,” verduidelik Grobler.

Volgens Taute geld jou motor nie as openbare ruimte nie. Jy as eienaar van die voertuig bepaal wie toegang daartoe het. Hy glo dit sal dus nie ’n probleem wees vir motoriste om sonder ’n masker te bestuur nie.

Maroela Media het vroeër berig die regulasies bepaal dat maskers van lap gemaak kan word of enige huishoudelike item (soos ʼn serp) wees wat jou neus en mond bedek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

DLR ·

Maak tog asb nou julle mind OP. Hierdie TV kanaal se dis verpligtend en die koerand is nie seker nie maaaaar miskien moet jy dit maar dra

JULLE MAAK die mense deur mekaar
Ek kom nou van superspar af en almal daarbinne, personeel en kliente het dit gedra
Los dit nou dit is die veiligste.
More loop ek in n ou vas weer in spar sonder n masker en wanneer ek hom aanvat se hy Maroela Media se hulle kan jou niks maak as jy dit nie dra. Dis OF jy dra hom OF jy dra hom nie met gevolge
DANKIE

Venter ·

Hoekom wil persone altyd die teen vraag vrae dit is net om uitloking te begin daar is wel nie n wet op masker om vervolg te word nie maar is vir jou en gesin beskereming as jy omgee vir ander en vir jou self en gesin sal jy dit doen as julle nou weer iemand sonder masker sien moet jy weet hy het geen respek vir hom self nie hoekom sal hy respek teen ander toon

ElizeK ·

Van die os op die jas. Ek sien nou op die TV van Chinese gemeenskappe wat kos uitdeel in townships.
Nou slaan my om met n veer. Waar is Lefusi NOU wat in beheer wil wees van die verspreiding van kos.
Hoekom mag Chinese vrylik beweeg om kos uit te deel.
So Helpene Hande, laai jul vragmotors en gaan gee kos waar jul harte lê.

Ronel ·

Hier gaan dit nie oor kos nie………maar oor die dra van die maskers.

Frannie ·

Want die Chinese en die regering is in cahoots, hand om die blaas, beste maatjies, vennote dalk selfs.

marius ·

Nou gaan hulle net ‘n misdryfskeppende en straf bepaling deurvoer . Gratis regshulp aan die staat ….

johan ·

As jy ‘n masker wil dra doen dit, maar as ander nie wil nie los hulle uit. Waarom sou jy jou oor hulle bekommer? Jou masker hou jou mos veilig! So, as jy in jou masker glo het jy niks te vrees nie al loop al die ander daarsonder. As jy steeds bekommerd is, wel, gooi dan jou masker ook weg want dan is hy mos nutteloos.

Frannie ·

Julle onkunde maak my bang. Ten minste dra julle jul maskers.
Materiaal maskers keer nie dat jy die virus kry nie. Dit help keer dat JY (indien jy die virus sou hê) die virus na ander versprei. Met ander woorde jy hou jou kieme vir jouself.
Slegs die maskers wat Dokters in teaters dra hou virusse van buite af uit en dan is dit nie eens 100% nie.
Google eers bietjie voor julle my aanvat.

Duck ·

Dra die masker, beskerm jouself en ander om jou.
Prevention is better than……..cure (en daar is nie ‘n cure nie)

Verisca ·

Interessant. Ek weet van iemand wat n R300 boete gekry het waar hy in sy bakkie gesit en wag het sonder n masker!

Ronel ·

Seker n arme blanke persoon wat weer die spit moet afbyt……..reg?

PieterP ·

Die enigste masker wat allegebal effektief is, is die N95. Lap maskers is 0% effektief teen virusse so ons word net gepaai.

Ronel ·

Al wat ek se……..ek pas myself mooi op omdat ek aan n hartsiekte ly en ek gaan nie siek word of COVID-19 kry vir n onnosele persoon wat my lewe onnodig in die gedrang plaas nie of wat my lewe in gevaar stel nie. Ek dra my materiaal masker omdat ek glad nie en veral nie aangesteek wil word nie. >>”Dra nie jou masker nie en jy het daai virus onder lede……..is MOORD! Dink soos n normale grootmens.”

Co ·

Die kenners se dat jy die masker moet dra as jy in die strate gaan hardloop of stap. Wel, ek dra ‘n bril en as ek soggens gaan hardloop en ek dra my masker, stoom my bril so erg op dat ek boggerol kan sien. Dus, of ek vang die virus, of ‘n kar trap my plat!

AH ·

Ek stap soggens in “oop” tyd met my honde. Daar is ander wat ook met hul honde of alleen stap, so ook fietsryers en drawwers, maar niemand kom binne 2 meter van my af nie! Ek dra dus my masker soos Bheki Cele dit doen- net oor my mond, anders wasem my bril toe en ek raak benoud! Ek dra die masker oor my neus en mond wanneer ek winkels toe gaan omdat ek moet en nie omdat ek glo dat dit sal keer dat ek die virus kry nie, maar uit respek vir die reëls.

Anel ·

Eintlik dien die masker geen doel nie. Die langdurige dra van masker verhoog net die gevaar van lingsiektes. Om die heeltyd jiu eie asem in te asem en nie vars lug nie, is ook ‘n groot gevaar. Verder kan maskers angstigheid veroorsaak deur mense wat glad nie iets oor hulle mond en neus kan hanteer nie. Na regte word niemand beskerm nie.. En hoekom nou eweskielik? Wat van al die TB besmettes wat al die jare tussen ons MAG rondloop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.