Vertraging in betaling van subsidies gepak

Die departement sê talle probleme het tot die vertraging in die betalings bygedra. (Argieffoto: House op Hope Soup Kitchen Project/Facebook)

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling sê hy is druk besig om die vertraging met die betaling van subsidies aan nie-winsgewende organisasies in te haal. Verskeie probleme, waaronder voldoeningskwessies en probleme met die departement se stelsel, het tot die vertraging bygedra.

Feziwe Ndwayana, departementele woordvoerder, sê daar is op 26 April met die betaling van subsidies vir die eerste kwartaal begin. Betalings sal voortaan weekliks gedoen word aan organisasies wat reeds hul diensvlakooreenkomste vir die 2021-’22-boekjaar met die departement onderteken het.

Ndwayana sê die logistieke reëlings om die rade van die verskillende organisasies te kry, het langer geduur as wat aanvanklik gedink is.

Sommige van die organisasies kon glad nie die ooreenkomste onderteken nie omdat hulle registrasiestatus intussen verval het, of omdat daar gebreke was.

“Dit het gevolglik beteken dat hulle nie voldoen het aan die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling se finansieringsvereistes nie. Die kwessie is na die nasionale departement vir dringende ingryping verwys en die probleme is sedertdien opgelos,” sê Ndwayana.

Die bedryfslisensies van sekere instellings, veral sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, dienssentrums, middageteklubs en instapsentrums vir MIV, is geraak deur veranderinge aan munisipale verordeninge wat beteken het dat hulle ook nie meer aan die departement se vereistes voldoen het nie.

“Die departement het besluit om in die belang van dienslewering kondonering vir die geraakte sektore te gee, terwyl ʼn langtermynoplossing in die betrokke munisipaliteite ondersoek word.”

Ndwayana sê ʼn probleem met die departement se stelsel het beteken dat hy nie toegang tot geskandeerde dokumente kon kry nie. Dié probleem is nou uitgestryk en daar kon met betalings begin word.

Die departement het terugvoer van die nie-winsgewende organisasies verwelkom en onderneem om die betalings te doen.

“Die departement waardeer die ongelooflike bydrae wat hulle lewer om dienslewering en die maatskaplike beskerming van die kwesbare gemarginaliseerdes in ons gemeenskappe te verseker,” sê Ndwayana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

… en in watter tou gaan gemarginaliseerde Afrikaners staan? Dit is daarom wonderlik dat daar van onse mense is wat daadwerklik die bul by die horings pak vir hul naaste. Dit sal nie die eerste keer wees dat Afrikaners in erge nood gehelp moet word nie. Die vraag is net of ons nog warm harte het vir die eie.

Blikkies

Daar is net absoluut Niks wat hierdie regering reg kan aanpak en suksesvol kan deurvoer nie, daar is altyd iemand of iets wat die skuld vir hulle onderprestasies kry. Hulle is wel suksesvol met hulle eie ondergang.

Sarel

Onbevoegte stelsels …wat lei tot korrupsie en onbevoegde amptenare

Sarel

annie…..wat is u bydrae

Jakes

Nis anders as onbeholpe, onbevoeg en lui narre wat die werk nie kan doen nie.