Vertraging in Panayiotou-moordverhoor

Christopher Panayiotou Dinsdag in die hof. Foto: Raahil Sain / ANA

Die voortslepende moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes is Dinsdag in die Port Elizabeth-hooggeregshof weens ʼn vertraging uitgestel.

Die verdediging moet nog sy saak aan die hof stel, maar advokaat Terry Price het aangedui dat sommige getuies nie beskikbaar was nie en het regter Dayalin Chetty versoek om die saak uit te stel.

Price het gesê vier getuies sal geroep word en dat hy waarskynlik vroeg volgende week sy saak sal afsluit.

Die verdediging gaan na verwagting vir Anthony Emmit, ʼn familievriend, Maurizio Bertolani, Panayiotou se neef, en Chanelle Coutts, sy minnares, roep om te getuig. Die verdediging gaan ook na verwagting sy eie selfoondeskundige laat getuig.

Price het aangedui Wilma van de Bergh, ʼn rekenmeester, gaan nie meer vir die verdediging getuig nie.

Die staat het in Junie sy saak teen Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko afgesluit. Die staat het aangevoer Panayiotou is die meesterbrein agter die moord en hy het Luthando Siyoni betaal om huurmoordenaars te kry om sy vrou, Jayde, in April 2015 te vermoor. Volgens die staat het Nenembe vir Sizwe Vumazonke gehelp om die moord uit te voer. Sibeko het na bewering ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel. Vumazonke is verlede jaar in aanhouding dood. Siyoni het ʼn getuie vir die staat geword.

Selfoondata is vroeër aan die hof voorgelê wat bevind dat Sibeko saam met Vumazonke en Nenembe buite die Panayiotou-huis by die Stellen Glen-kompleks was, net vyf dae voordat Jayde ontvoer, in ʼn kattebak gedruk en daarna naby Kwanobuhle vermoor is.

Staatsaanklaer Marius Stander het meer as 40 mense geroep om tydens die saak te getuig.

Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Grote genade gaan hierdie saak dan nogsteeds aan. Dog dis lankal verby en oor. Dit is ‘n mors van kosbare tyd en geld.

Tanya ·

Dit is baie raar dat mens sien iemand sit al so lank agter tralies en hy is nogsteeds spekvet en gesond. Wat geld nie alles kan vermag nie!

Absoluut ·

Lekker skerp, ek stem 100% saam, dalk nog vetter, heerlike kos en geen werk. Verder is dit absolute vermorsing van staatsgeld om te weet die saak begin vandag weer en dan sonder getuies op te daag, as dit aan die staat se kant was het hy dit weer gebruik om sy klient los te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.