Vertragings by hawens knou granaatbedryf

‘n Granaat. (Foto: Pixabay)

Die vyf jaar lange droogte in die Wes-Kaap is verlede jaar gebreek en die vrugtebedryf, veral die granaatbedryf, beleef tans ʼn besondere bloeiseisoen. Dit sou uitvoerrekords gebreek het as dit nie vir die ontwrigtende afsonderingstydperk was nie.

Wêreldwyd besef verbruikers toenemend die gesondheidsvoordele van granate en het hulle die afgelope jare meer van dié vrugte begin koop. Uitvoere in tonne het na die droogte met 44% in die 2018-’19-seisoen toegeneem, met ʼn gesonde groei oor die afgelope agt jaar. Covid-19 het egter ʼn stokkie daarvoor gesteek en weens verlede jaar se personeeltekorte by Suid-Afrikaanse hawens en die daling in internasionale handel, het uitvoere skielik met 6% gedaal. Gevolglik lê groot volumes granate nou in pakhuise en wag om verskeep te word.

Carnel Geddes, voorsitter van  die Granaatprodusentevereniging van Suid-Afrika (Pomosa), verduidelik hoekom Suid-Afrikaanse uitvoerders steeds aan die agterspeen suig. “Tydens Covid-19 het die Amerikaners se aanlyn aankope vanuit China geweldig toegeneem, terwyl ander handel afgeneem het. Dit het die skeepvaartbedryf se roetevoorkeure verander en minder skepe het by Suid-Afrikaanse hawens aangedoen. Boonop het die grendelstaat veroorsaak dat Kaapstad se hawebedrywighede baie afgeneem het en ons moes ander planne beraam om ons vrugte te verskeep. Op ʼn stadium kon ons ons trokke ten duurste Port Elizabeth en Durban toe stuur om ʼn geleentheid te benut.

“Dié ontwrigting het ook meegebring dat verskepingspryse verhoog het. Vrugteboere word egter gedwing om hierdie pryse te aanvaar weens hul produkte se kort raklewe. Jy kan ook nie prysverhogings op jou klante afskuif nie,” sê sy.

‘n Granaat uit Frikkie van Biljon se groentetuin. (Foto: Facebook/Frikkie van Biljon)

Groot volumes van hierdie jaar se granaatoes lê nog in koelkamers en pakhuise en dit moet meer hanteer en geskuif word om vakante bergplekke te vind, wat die uitvoere verlangsaam en die kosteketting nog duurder maak. “Die granaatbedryf is baie klein en die oestydperk kort. Dus is dit nie lewensvatbaar om verkoelingsfasiliteite en pakhuise spesiaal vir granaatboere te bou nie. Met min aanpassings kan hulle wel met steenvrugte en wintervrugte soos sitrus afwissel vir pak- en verkoelingsgeriewe, maar oestye verander weens wisselende seisoene en dit is nie altyd moontlik nie. Daar het darem hierdie seisoen ʼn klein pakhuis toegetree tot die bedryf, maar ʼn ander een gaan sy deure sluit vir granate,’ sê Geddes.

Die natuur is vanjaar egter baie goedgesind teenoor granaatboere en hulle is optimisties oor die oesseisoen wat verlede week aangebreek het. “Ons het 50% meer van die vroeë variteit, Herskovitz, as verlede seisoen gepluk en Wonderful se volumes lyk of dit min of meer dieselfde hoeveelheid gaan wees,” sê sy. Die Wellington-streek se granaatboere het baie goeie voorwinterreën gehad. Dié vars water is baie meer voordelig as die brak boorgatwater waarmee daar oor die algemeen besproei word. Saam met die tydige toediening van kalk en gips wat die grondbrakheid neutraliseer, help die reënwater ook om die soute in die grond weg te spoel wat die bome belemmer om voedingstowwe op te neem.

Internasionale handel begin nou stadig, maar seker toeneem en so ook die bestellings uit Europa vir klas 1 vars granate. Dit terwyl bestellings vir ander Suid-Afrikaanse vrugte oor die algemeen afgeneem het. Alhoewel daar verpakte granate in koelkamers wag wat reeds verskeep moes word, is die eerste granate al op die water op pad na Europa, die Midde- en Verre Ooste.

“Gelukkig het die Wonderful-kultivar ʼn langer raklewe, wat voordelig tydens kort vertragings is, maar ons is steeds bekommerd. Covid-19 se huidige nadraai is nie soseer dat die hawens vol is nie, maar dat die skeepsrederye nie voldoende hanteringstoerusting en leë skeepshouers het nie,” sê Geddes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eclectus ·

Seisoen is gewoonlik Februarie tot Mei en ek koop soveel as moontlik vir my voëls. Ons het altyd die swakker produkte gekry maar dit het darem met tyd verbeter, alhoewel dit verlede jaar weer skaars en swakker gehalte was. Tans is Wonderful volop teen R80/8. Soms betaal ek buite seisoen R80+ vir een ingevoerde granaat (Israel/ Egipte). Ek dop hulle uit in houers en vries dit. Die pitte vries nie solied nie en ook nie aan mekaar vas nie. Die voëls lê net so koud aan dit weg en gewoonlik prop ek sommer ook ‘n lepel vol in my kies.

Anoniem ·

Vir my persoonlik is ‘n granaat nie R 10-00 + werd nie.

Karina ·

Ek het groot geword met oa ‘n granaat boom in die tuin. Ai, dit was nou lekker om die vrug oop te breek en weg te val en eet. Deesdae is dit so duur, ‘n luuksheid wat vrouens graag oor ‘n slaai strooi om dit mooi te laat lyk. Ek sal graag weer ‘n granaat wil bykom en geniet soos wat ek as kind geniet het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.