Vertroeteling van leeuwelpies ‘katastrofies’

In die navorsing kan gesien word hoe meerderheid van die leeuwelpies aggressief teenoor mense reageer of probeer om van mense af weg te kom. (Foto: Verskaf)

Nuwe navorsing oor ʼn gewilde gier waar toeriste betaal om jong leeu- of tierwelpies vas te hou en te vryf, het bevind dat dié soort vertroeteling katastrofiese gevolge vir die diere se welstand inhou. Dis so erg dat dit die meeste van hierdie welpies se gedrag aantas, hul stresvlakke deur die dak laat skiet en hulle uiters aggressief maak.

Die voortslepende vertroeteling van veral leeuwelpies normaliseer ook die praktyk om leeus in gevangenskap te hou vir teling sodat nog meer welpies met toeriste in aanraking kan kom, is bevind.

Die studie, onder leiding van die New York University (NYU) en die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws, pak die probleem aan van hierdie gier en die skade wat dit aan leeus berokken. Die studie is in die vaktydskrif Animals gepubliseer.

Om die vraag na welpies se welstand by hierdie soort fasiliteite in Suid-Afrika aan te pak, het navorsers video’s wat deur toeriste op YouTube gedeel is, ontleed om inligting oor dieregedrag, telingspraktyke en lewensomstandighede in gevangenskap in te win.

Deur byna 270 stukke beeldmateriaal te ontleed kon navorsers daarin slaag om ʼn databasis van 49 video’s op te bou, wat toeriste se wisselwerking met leeuwelpies by hierdie soort fasiliteite vasvang.

Vanuit die beeldmateriaal is daar vasgestel dat 61% van die welpies onder drie maande oud was toe hulle aan mense blootgestel is. Twee video’s wys hoe toeriste met welpies skaars ouer as ʼn week of net ʼn dag oud, wie se oë nog toe is, speel. Die leeuwyfies was in slegs een van die 49 video’s teenwoordig. Volgens die navorsing word welpies dikwels van hul ma’s geskei en op ʼn jong ouderdom gedwing om met mense in aanraking te kom.

In die meerderheid van die video’s (77%) kan gesien word hoe leeuwelpies aggressief teenoor mense reageer of probeer om van mense af weg te kom. Die navorsing dui ook daarop dat welpies grotendeels deur die dag gedwing word om wakker te bly en met mense om te gaan.

“Dit kan lei tot ʼn gebrek aan slaap, wat ook die welpies se welstand in gedrang bring. Dit alles kan langtermyn-gedragsprobleme tot gevolg hê,” lui die studie.

“Ons bevindinge dui daarop dat fasiliteite waar leeuwelpies vertroetel word, voorsiening maak vir mense wat goeie bedoelings met die leeus het, maar daar is tog steeds ernstige welsynsbekommernisse daaraan verbonde,” sê dr. Becca Franks, medeskrywer van die navorsing.

Franks is ʼn assistentprofessor van omgewingstudies en mededirekteur van die NYU se nuwe Wild Animal Welfare-program wat hom beywer om mense se begrip van wilde diere en hoe om met hulle in aanraking te kom, te verbeter.

(Foto: Verskaf)

“Leeus wat hul lewe in hierdie soort fasiliteite begin, word deel van ʼn groter siklus van mishandeling, soos gesien in die jagbedryf, die eksotiese troeteldierhandel en die swartmark waar diere se liggaamsdele verkoop word,” sê sy.

“Hoewel die vertroeteling van welpies nie ʼn vreemde verskynsel is nie, weet die meeste mense steeds nie watse skade dit kan berokken nie.”

Fiona Miles, direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, sê die studie het uitgelig hoe niksvermoedende diereliefhebbers kan bydra tot die vernietiging van die leeubevolking deur die vertroetelingsbedryf te ondersteun.

Die internasionale vakbond vir natuurbewaring (IUCN) se rooilys klassifiseer leeus wat van Afrika afkomstig is as ʼn kwesbare spesie. Leeus word ook as ʼn bedreigde spesie onder die Amerikaanse Wet op Bedreigde Spesies geklassifiseer.

Afrika se wilde leeubevolking het die afgelope 20 jaar van ongeveer 75 000 tot net 30 000 gedaal. Tans is daar waarskynlik meer leeus in aanhouding, soos op teelplase, safariparke en in dieretuine, as leeus wat vrylik in die natuur leef.

Kenners beraam dat leeus op sowat 300 plase in Suid-Afrika woonagtig is. Die meeste van die leeus op dié plase word vir trofeejag geteel of sodat toeriste met welpies kan speel en hulle vashou.

Four Paws voer aan hierdie wilde diere ly onder onvoldoende aanhoudingstoestande weens ʼn gebrek aan kundige sorg, gereelde oefening, opleiding en gedwonge wisselwerking met mense. Dié organisasie beywer hom om die kommersiële gebruik en handel van groot katte oor die wêreld heen te beëindig, wat die praktyke van private aanhouding en teling, trofeejag en welpievertroeteling insluit.

“In plaas daarvan om welpies by vertroetelingsfasiliteite te besoek, ondersteun eerder toevlugsoorde vir leeus, tiers en luiperds. Instansies wat nie met hulle teel, handel dryf of kontaksessies aanbied nie, maar eerder ʼn ewige tuiste vir mishandelde katte gee.”

Die organisasie sê die studie is van groot belang, aangesien Four Paws reeds die afgelope paar jaar positiewe vordering gesien het om die siklus van mishandeling stop te sit. “Dit kom veral nadat Joe Exotic, die sogenaamde Tiger King, se uitbuiting van die diere in die VSA onthul is en die berugte Black Jaguar-White Tiger-stigting in Mexiko gesluit is,” sê die medeskrywer, Claire LaFrance van Four Paws.

“Die vertroeteling van diere, veral leeus, is iets wat ons nou iets van die verlede moet maak. Dit het geen plek in ʼn hedendaagse samelewing nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Beste “Four Paws”, al wat julle regkry is om diere se waarde te verminder en so hul nader aan uitsterwing te druk…maar in die wêreld van natuur-akrivisme is dit groot geld wat julle maak met jul veldtogte.

Martin ·

Daar gaan oor paar jaar gee wilde leeus oor wees ni waneer gaan four paws vr ons di antwoord gee want as ons boere gestop word waar kry ons dan leeus

pestilensie ·

Eensydig, jy kan maar seker dieselfde se oor honde “puppies” se stresvlakke , sien nie veel van hulle wat lewenslank getreumatiseerd is nie .

AmY ·

Dis die rede waarom hulle WILDE DIERE en nie TROETEL DIERE is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.