Vervaardiger kap terug oor Winnie-dokumentêr

Winnie Nomzamo Madikizela-Mandela by die ANC se 54ste nasionale konferensie in Desember 2017. Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die vervaardiger van die omstrede dokumentêr Winnie het gesê sy staan by haar standpunt dat dié program “die waarheid vertel” van die onstuimige lewe van die vryheidsvegter, Winnie Madikizela-Mandela.

Pascale Lamche se kommentaar kom nadat Sydney Mufamadi, voormalige minister van veiligheid en sekuriteit, teen die dokumentêr uitgevaar het. Mufamadi het gesê die dokumentêr is ongebalanseerd en dat hy nie die kans gegun is om op bewerings in die TV-program te reageer nie.

Maroela Media het vroeër berig Mufamadi het gekap na bewerings in die dokumentêr deur Henk Heslinga, die destydse hoof van die moord-en-roof-eenheid, dat Mufamadi, wat destyds minister van veiligheid en sekuriteit was, hom in 1995 genader het om die ondersoek na Stompie Seipei se dood weer te heropen.

Mufamadi beweer dit was nie hy nie, maar Tony Leon, voormalige leier van die DA, wat die destydse polisiekommissaris, George Fivaz, genader het om te versoek dat die ondersoek na Stompie se moord heropen word. Mufamadi het gesê hy het geweet van die ondersoek, maar het nooit opdrag gegee dat die ondersoek heropen word nie.

Sydney Mufamadi, voormalige kabinetsminister, tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg. Foto: ANA

Lamche het gesê sy stem saam met Mufamadi dat sy met hom ook ʼn onderhoud kon gevoer het en daarvoor vra sy om verskoning. Sy het gesê Mufamadi se weergawe bevestig egter die besonderhede in die dokumentêr.

“Wat hy bevestig is dat daar ʼn reuseondersoek aan die gang was, ʼn ondersoek waarvan hy geweet het, voordat mama Winnie voor die Waarheids- en Versoeningskommissie verskyn het. Toe sy eers voor die kommissie verskyn, is sy deur ʼn hele aantal bewerings van ʼn kriminele aard in die gesig gestaar, bewerings waarop sy nie kon reageer nie, want die Waarheids- en Versoeningskommissie was nie ʼn strafregtelike hof nie, en sy was verstaanbaar geskok oor die bewerings teen haar,” het Lamche gesê.

Sy het gesê sy het in Januarie 2017 die dokumentêr klaargemaak en dit is vir die eerste keer in Junie 2017 in Newton, Johannesburg vertoon.

“Niemand het dit gekoop om uit te saai nie. Die SAUK het nie belanggestel nie. Dit is ʼn ongelooflike komplekse storie… Ek moes dit sny tot by ʼn maksimum lengte soos deur televisienetwerke vereis word, so dit was ʼn ingewikkelde taak. Ek het gekies om sekere sleutelelemente van die storie te prioritiseer om die neutralisasie van Winnie Mandela se bydrae tot die struggle te verstaan. En hoe sy op ʼn spesifieke tyd gekriminaliseer is. Die dokumentêr dra water.”

Die vertoning van die dokumentêr wat in Junie 2017 gehou is, was slegs op uitnodiging. Madikizela-Mandela en haar familie, asook sommige ANC-leiers en ministers is genooi om dit vir die eerste keer te kom kyk. Lamche het gesê niemand in die ANC het haar ooit daarna weer genader oor kwessies rondom die inhoud van die dokumentêr nie.

Die bekroonde dokumentêr is geborg deur die departement van kuns en kultuur en die Nasionale Film- en Video-stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Manie Strydom ·

Propaganda en leuens , net soos hulle die wit mense breinspoel om te glo niemand diskrimineer teen hulle of vermoor hulle stadig maar seker uit nie.

Manie ·

Die vrou was n krimineel en dit is beter vir my dat sy nou aanbeweeg het

Koos ·

Mens kon al op foto’s waar sy nog jonk was die gemene en slu streep in haar gesig sien. Op RSG is laasweek deur ou bekende Afrikaanse nuuslesers verwys na “die rassis Vicky Momberg” en i dieselfde uitsending na die “struggle-ikoon Winnie”. Vergeet maar eerder dat sy aan aanranding en later bedrog skuldig bevind is…

Oom Kalahari ·

Die waarheid seevier maar altyd, ongeag van hoeveel geraamtes jy in die kas wil versteek. Om ‘n dokumenter saam te stel vir nageslagte wat nie op grondigheid gebaseer is nie is misleidend.

CG ·

Die Waarheids en Versoeningskomissie het bevind dat Winnie Mandela ernstige menseregtevergrype gepleeg het en dat sy geïmpliseer is aan moorde, martelings, ontvoerings en brandstigting. Tog is sy nou die Moeder van die Nasie en word hulde aan haar gebring deur oa die EFF, ANC en DA. Om nou kritiek op haar optredes te lug, ontlok skerp veroordeling. Dit is baie, baie siek!

Koos ·

Die waarheid is die waarheid en almal insluitende die sogenaamde afrikaanse media kan hul bes probeer om haar beeld te probeer poets , ons weet wat die waarheid is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.