Vervaardiger sê sy noedels veroorsaak nié kinders se dood

(Argieffoto: Pixabay)

Grandisync CC, ʼn vervaardiger van kitsnoedels, sê sy produk is veilig vir menslike gebruik en het nie die dood van verskeie kinders veroorsaak nie.

Die nasionale verbruikerskommissie het vroeër ʼn ondersoek van stapel gestuur oor die dood van vyf kinders nadat hulle glo van die noedels geëet het.

Grandisync sê nou hierdie ondersoek is afgehandel en hy wag op ʼn amptelike verklaring daaroor van die kommissie wat na verwagting binnekort bekend gestel gaan word.

“Ons kan egter sê dat die ondersoek vasgestel het dat dit nie ons produk was wat voor die twee noodlottige voorvalle geëet is nie. Ons produk word dus kwytgeskeld van dié voorvalle,” lui ʼn verklaring van die maatskappy se regsverteenwoordigers.

Maroela Media het vroeër berig Sinothando Ngwendu (11), Olwam Ngwendu (7) en die vier maande oue Athenkosi Ngwendu is dood kort nadat hulle glo ʼn pakkie noedels geëet het.

Die vervaardiger sê egter die sterftes hou nie met sy produk verband nie.

“Ons kan bevestig dat die toetse wat die polisielaboratorium in verband met die sterftes van die Motherwell-kinders gedoen het, bevind het die kinders is deur Termifos, ʼn landbou-insekkdoder, vergiftig .”

Die vervaardiger sê sy Howe-kitsnoedels is veilig vir menslike gebruik.

Die maatskappy het ná die voorvalle sy eie ondersoek begin en sê die uitslae van onafhanklike laboratoriumtoetse is beskikbaar en “bevestig dat ons produk veilig is vir menslike gebruik”.

Die maatskappy sê ook hy is bereid om die volledige toetse aan belanghebbendes bekend te maak.

Phetho Ntaba, woordvoerder van die nasionale verbruikerskommissie (NVK), sê egter die ondersoekproses is nog nie afgehandel nie en die kommissaris moet nog die ondersoekers se verslag bekyk.

Die kommissie wou nie in hierdie stadium verder kommentaar lewer of die vervaardiger se skrywe bevestig nie.

“Die proses sal binne die volgende paar weke afgehandel wees,” sê Ntaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

So ‘n ondersoek behoort as ‘n prioriteit gehanteer te word. Hoekom vat dit so lank om tot ‘n slotsom te kom?

annie

Die berging van die noedels is ‘n ander aspek wat probleme kon oplewer. Wat is gebruik om peste weg te hou?

Mallie

Dis nie die vervaardiger swe skuld nie. Iemand het die kinders vergiftig.

Nie Verbaas

En nou te laat om by ouers se huise ondersoek in te stel. Miljoene pakkies vervaardig, net die genoemde kinders sterf. As die produk onveilig was sou daar meer gevalle gewees het as vervaardiger se produk nie aan higiëniese standaarde voldoen nie.

jlantie

Dit is hoekom daar gesondheidsinspekteure was om plekke wat kos verkoop te gaan inspekteur en sulke voorvalle te verhoed. Alles word net aan genade oorgelaat , maar probeer jy nou net ñ eerlike inkomste te genireer en ñ klein sake begin is daar soveel regulasies en bywette wat teen jou gebruik word