Vervaardiging by Toyota-aanleg gestaak ná storm

ʼn Skermskoot uit ʼn video van die oorstroming by die Toyota-vervaardigingsaanleg.

Bedrywighede by die Toyota-vervaardigingsaanleg in Prospecton, suid van Durban, is tydelik gestaak nadat ʼn hewige storm Dinsdag aansienlike skade by die aanleg aangerig het.

Andrew Kirby, president en uitvoerende hoof van Toyota South Motors, het in ʼn verklaring gesê heelwat skade is aan geboue, toerusting en voertuie by die aanleg aangerig. “Ons eerste prioriteit was om die veiligheid van ons werknemers te verseker en ek is bly om te sê niemand het enige beserings tydens die storm opgedoen nie,” het Kirby gesê.

Hy het gesê vervaardiging by die aanleg is egter minstens tot Donderdag gestaak sodat die omvang van die skade bepaal kan word. “Ons sal die situasie Donderdag weer assesseer en besluit of ons met normale vervaardiging kan voortgaan.”

Verskeie Toyota-voertuie word by dié aanleg vervaardig, asook die Hino-voertuie wat hier aanmekaar gesit word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn hewige storm het Dinsdag verwoesting in Durban gesaai met talle paaie en huise wat oorspoel het, geboue wat ingegee het en selfs ʼn vragskip wat in die hawe van sy ankers losgeruk het. Die storm het ook ʼn aantal mense se lewens geëis weens kitsvloede en geboue wat ineengestort het.

Kyk hier na ʼn video van die oorstroming by die Toyota-vervaardigingsaanleg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.