Verval by 154 probleem-munisipaliteite ondersoek

(Foto: Sakeliga)

Sakeliga sal ʼn versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die ouditeur-generaal indien oor 154 probleem-munisipaliteite landswyd waar daar ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie is.

Prokureurs vir Sakeliga wil spesifieke bestuursverslae bekom wat glo na afhandeling van die staatsouditeur se jaarlikse oudit aan die onderskeie munisipaliteite se bestuurspanne voorgelê word. Sakeliga wil hierdie verslae ontleed ten einde langtermyn-strategieë te verfyn vir sake-selfstandigheid te midde van staatsverval op munisipale vlak.

Ouditeur-generaal (OG) se bestuursverslae

Die OG se bestuursverslae ten opsigte van spesifieke munisipaliteite is nie algemeen beskikbaar nie, en word nie deur die OG gepubliseer saam met die jaarlikse ouditverslae nie. Die bestuursverslae deur Sakeliga versoek handel met korrupsie by spesifieke munisipaliteite, asook finansiële- en bestuursgebreke wat deur die ouditspanne opgemerk is, waar die jaarlikse ouditverslae van die OG, wat algemeen beskikbaar is vir die publiek, grootliks opsommend en formeel is.

Sakeliga meen derhalwe dat die inligting in die bestuursverslae vervat van groot waarde vir gemeenskappe is wat presies wil weet hoe en waar hul belastinggeld verkwis of gesteel word, en wat aan die wortel van diensleweringsprobleme lê.

Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit

Sakeliga se versoek vir toegang tot die bestuursverslae by die 154 probleem-munisipaliteite volg op die ontvangs van dergelike bestuursverslae oor die laaste vyf jaar van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit (wat die dorpe van Koster, Swartruggens, en Derby diens). Die bestuursverslae sit korrupsie, verval en finansiële krisis by die munisipaliteit in besonderhede uiteen. Die laasgenoemde rekords – ook kragtens PAIA versoek – is aanvanklik weerhou, maar aan Sakeliga gelewer ná ʼn hofbevel in Februarie verlede jaar en daaropvolgende dreigement van ʼn minagtingsaansoek by die hooggeregshof.

Tendense om hofbevele te weier

Benewens kommerwekkende besonderhede oor korrupsie en diensleweringsgebreke in die rekords wat uiteindelik deur Kgetlengrivier-munisipaliteit aan Sakeliga voorsien is, merk Sakeliga ook ʼn toenemende tendens onder vervalle munisipaliteite op om bloot hofbevele te ignoreer.

In menige geval moet alle moontlike regstappe, insluitend minagtingsaansoeke weens weiering om aan hofbevele gehoor te gee, gevolg word om munisipaliteite se voldoening aan hofbevele te verseker. Dit beteken dat die publiek verskeie uitgawes moet aangaan om nie net munisipaliteite te dwing om hul eie wetgewing te gehoorsaam nie, maar ook munisipaliteite te dwing om aan hofbevele gehoor te gee wat voldoening aan munisipale en ander wetgewing gelas.

In die geval van Kgetelengrivier het Sakeliga byvoorbeeld reeds op 25 Februarie 2021 ʼn bevel in die Noordwes-afdeling van die hooggeregshof, Mahikeng, teen die munisipale bestuurder van Kgetlengrivier bekom, wat die munisipaliteit verplig om aan ʼn rekordversoek wat al in Desember 2020 kragtens PAIA ingedien is, gehoor te gee. Sakeliga is later genoodsaak om die hof te nader nadat die aansoek vir maande lank onbeantwoord gelaat is. Maande nadat die hofbevel in Sakeliga se guns gelewer is, het die munisipaliteit steeds in gebreke gebly om daaraan te voldoen of selfs korrespondensie daaroor te beantwoord. Die munisipaliteit het eers op 7 Desember 2021 – meer as ʼn jaar nadat die aanvanklike versoek vir rekords afgestuur is – en nadat Sakeliga op die drempel was om die munisipale bestuurder om minagting van die hof aan te kla, aan die bevel voldoen.

Die pad vorentoe

Die verval in verskeie plaaslike munisipaliteite het probleme met dienslewering en administrasie verbygesteek, en strek nou so ver as nie-deelname aan die regsproses en geykte meganismes vir geregtelike oorsig en legaliteit.

Verdere regstappe sal na ontvangs van die bestuursverslae van die 154 probleem-munisipaliteite oorweeg word. Intussen konsulteer Sakeliga ook verder met sy regspan oor die bestuursverslae wat uiteindelik vanaf die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit bekom is, met die oog daarop om verkwisting en verval in Koster, Derby, en Swartruggens onder bedwang te bring.

Sakeliga is reeds besig met ʼn sogenaamde betaalmeester-hofsaak in Ditsobotla- en Naledi munisipaliteite van Noordwes om ʼn onafhanklike spesiale betaalmeester deur die hof te laat aanstel om kritieke aspekte van hierdie munisipaliteite se finansiële administrasie te bestuur sodat dienslewering kan plaasvind. Lees meer daaroor hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

christo ·

Stadsrade ignoreer hofbevele. Die amptenare is net die sogenaamde ‘ cheque collectors ‘. Wanneer die burgery inspring en uit frustrasie self herstelwerk te doen, sit die amptenare terug en vou hulle hul hande. Die ‘job’ is nou gedoen. So waarom die bohaai?

SjN ·

Een groot sirkus, die klomp narre is dus verhewe bo die reg, hoekom word daar nie opgetree teen hulle nie, munisipale heffings en belastings moet weerhou word met n hofbevel en in n aparte dienste rekening betaal word vir onderhoud en instandhouding van reeds vervalle infrastrukture , sal sien hoe vinnig verander die situasie as daar nie geld beskikbaar is vir hul bo gemiddelde salarisse nie.

Pieter ·

Sterkte sakeliga meeste van die stadsbestuurders het net graad een.

Nie Verbaas ·

Dit verskeur n mens se hart om te sien hoe ANC die land in rommel verander. Alles gaan vir hulle oor persoonlike gewin en dit nou van n “people’s party”

Aikie ·

Dit wil my al hoe meer voorkom dat ons belasting betalers sal moet begin om drakonies op te tree teen die misdadige bestuurders van ons geld en regte sake. Tot dusver weet ek nog nie van een wat tronk toe is vir sy lang vingers nie of onhandigheid met ons munisipale verpligtinge. Is dit dan so moeilik om die lot vas te vat?

Jaco ·

Onkunde en te groot salaris is die probleem. Die geld is klaar so daar gaan nie diens lewering wees nie.

Mieke ·

Al wat hulle kan doen en sê is dat hulle “ondersoek sal instel”. Niks word daadwerklik gedoen nie.

Althes ·

Dankie Sakeliga vir jul volgehoue deursettingsvermoë. Ons as Suid-Afrikaners sal nie gaan lê nie, elke stap deur elke mens, joernalis en organisasie in die regte rigting, sal sukses bring op die lange duur.
Hierdie is ons land, ons hoort hier en ons het n plig teenoor ons kinders

JM ·

Dit was nog altyd ‘n siekte van die ANC-regering en hul “buddies” om enigiets wat hulle nie pas nie, te ignoreer. Hulle is mos bo die wet verhewe. Daar is net een uitweg: BID vir die val van die ANC-regering!

Janee ·

Is daar n pad vorentoe?…of het ons “the point of no return” bereik?

Salome ·

Ons kan ook nie aanhou betaal vir die korrupte mense in die munisipaliteite nie. Hulle moet vas gevat word en die gelde moet van hulle verhaal word. Net soos die parlement wat nie verseker is nie, maar die belastingbetalers moet maar net opdok. Begin die mense wat nie hulle werk ordentlik doen nie, te laat betaal vir al die oonkostes as gevolg vna hulle.

quartus ·

dit is hoog tyd dat die bestuurders van hierdie dorpsrade in die tronk gegooi word vir minagting van die hof

Sarel ·

Die Regering en veral versntwoordelike Minister moet antwoord.
My vraag verder aan die Opposissie..hoekom moet
Sakeliga optree…hoekom is die Politieke Opposissie
Sestemme stil..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.