Verval van SA se staatsondernemings blootgelê in verslag aan VN

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ʼn omvattende verslag aan die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad voorgelê oor die omvangryke agteruitgang van staatsondernemings en die verwoestende impak wat dit op dienslewering in Suid-Afrika het.

In die verslag het AfriForum onder meer weer op die volgehoue onderprestasie van talle staatsondernemings gewys en waarsku dat dié ondernemings in sommige gevalle gevaarlik naby aan ineenstorting is.

Die voorlegging vorm deel van ʼn versoek om insette oor die bevordering van menseregte en die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte deur deursigtige, verantwoordbare en doeltreffende openbare dienslewering.

Die verslag plaas klem op die talle uitdagings wat staatsondernemings die afgelope byna 20 jaar kniehalter, soos korrupsie, wanbestuur, politieke inmenging en staatskaping. Voorts wys die verslag ook op die impak wat die verswakkende staatsondernemings op noodsaaklike dienslewering het en die landwye uitkringeffek wat dit op verskeie sektore het. Dit beklemtoon ook dat dit dringend noodsaaklik is om die ondergang van dié ondernemings te voorkom.

AfriForum stel in sy verslag omvattende hervormings, bevoegdheidstransformasie, bevordering van mededinging, ʼn toename in openbare-privaat-vennootskappe en aktiewe burgerskap voor. Volgens die verslag, vereis Suid-Afrika ʼn sterk wetlike raamwerk wat goeie bestuur sal bevorder, korrupsie sal uitskakel en meriete voorkeur sal gee bo politieke partydigheid. Deur ʼn mededingende omgewing, vry van burokratiese regulasies te skep, sal beleggers meer gretig wees om die ekonomiese mark te betree en die ekonomiese groei te verseker wat die land desperaat benodig, meen AfriForum.

“AfriForum gebruik sy status as lid van die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Kommissie as ʼn platform om die internasionale gemeenskap oor die stand van sake in Suid-Afrika in te lig,” het Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, gesê.

“Dit is tyd dat die VN moet kennis neem van die impak wat die agteruitgang van staatsondernemings op dienslewering in Suid-Afrika het. AfriForum sal sy plaaslike en internasionale veldtogte voortsit om deursigtigheid te bepleit en sodoende uiteindelik ook ʼn vrye en voorspoedige toekoms vir alle Suid-Afrikaners te verseker.

“AfriForum sal saam met ander burgerlike organisasies die regering aanspreeklik hou vir sy wanbestuur van staatsondernemings. In baie gevalle is hierdie ondernemings tans nie in staat om die land se noodsaaklike dienste te lewer nie, maar belastingbetalers moet steeds die swaarste dra aan hierdie mislukte entiteite. Burgers kan nie voortdurend betaal vir die foute wat die ANC-geleide regering maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Uiters belangrik dat die VVO nie net die stem van die ANC hoor en net ANC verlae te lese kry nie. Uiters belangrik dat nie-regeringsorganisasies en die SA-burgery hul stem vir groter geregtigheid in die VVO laat hoor. Gefundeerde verslae uiters belangrik. Ry die morele golf.

Althes ·

Dankie Afriforum vir jul voortgesette deursettingsvermoë om die verval van SA se ekonomie onder die VN se aandag te bring. Ek glo vas daar gaan ñ dag kom wat al die pogings suksesvol sal wees vir ñ meer stabiele en gelyke SA.

Nicholaas ·

Mooi gestel, ek stem saam, saamstaan en iets doen is beter as niks doen en kla.

007 ·

En wat gaan die VN doen? Hulle kan niks eers aan die oorlog in Oekraïene en Israel doen nie. Wat gee julle die hoop dat hulle iets aan die ANC gaan doen?

Bekkie ·

AFRIFORUM moet staan vir verkiesing……..dan sal daar iets daadwerkliks in ons land begin gebeur ! Dink net hoe awesome sal dit wees

Republikein in die Wes Kaap ·

Die VN is ‘n mislukte organisasie wat beheer word deur afgeleefde oud-sosialistiese politici. Hulle reken dat SAS Mzanzibabwe is steeds op koers. Afriforum, werk eerder aan alternatiewe staatkundige planne. Kom aan, dink uit die boks!!!

piper ·

goed so. my maandelikse bydrae aan afriforum is n plesier. hulle doen meer as enige politieke party in die land, bou so voort.

Willem ·

Sal graag wil weet hoekom AF nie die gebeure onder die aandag bring van lande soos Mali en Sudan nie. Die Afrika Unie moet ook ingelig word van die vergrype deur ons regering. Om by westerse lande te huil laat die regering goed voel, daai selfde lande sal dan weer vir hulle nog geld gee want hulle voel skuldig omdat Jan in die Kaap geland het.

Wondermaarnet ·

Ek hoop in die verslag is dit duidelik gestel dat voor April 1994 was al hierdie staatsondernemings winsgewend.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.