Vervoerbegroting: Mbalula wil slaggate, rybewyse takel

Fikile Mbalula, minister van vervoer (Foto: Departement van vervoer)

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het Woensdag tydens die begrotingstoewysing gesê sy departement wil slaggate op provinsiale paaie, die uitreik van rybewyse en openbare vervoer takel.

Die departement se beplande uitgawes sal oor die mediumtermyn toeneem teen ʼn gemiddelde jaarlikse koers van 7,7%. Dit beteken ʼn toename van R69,1 miljard in 2022/23 tot R81,6 miljard in 2024/25.

“Ons het in die verlede bevestig dat die uitdagings wat ons mense beleef nie doeltreffend aangespreek kan word tensy ons eksponensieel die kapasiteit van die staat vergroot om doeltreffend dienste te kan lewer nie,” het Mbalula gesê.

Sanral

ʼn Bedrag van R76,4 miljard word aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) toegeken. Oor die medium termyn moet Sanral 59,3% (R45,3 miljard) spandeer om die nasionale padnetwerk (nie-tolpaaie) op te gradeer en te verstewig.

E-tol

Volgens Mbalula werk sy departement nou saam met die minister van finansies om uitstaande kwessies af te handel vir ʼn finale besluit deur die kabinet oor die finansiering van die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP), ook bekend as e-tol.

Provinsiale paaie

“Die instandhouding van provinsiale en munisipale paaie bly ook een van ons grootste uitdagings,” het Mbalula bygevoeg. “Deur gesamentlike pogings met die privaat sektor en burgerlike samelewing sal ons kreatiewe oplossings aangryp om beslissend slaggate te takel wat ʼn definiërende karakter geword het van ons sekondêre en tersiêre padnetwerke.”

ʼn Projekbestuureenheid sal saamgestel word was as ʼn ingenieurs- en projekbestuurspan sal dien om provinsies en munisipaliteite by te staan.

Padongelukkefonds (POF)

Mbalula het gesê die Padongelukkefonds (POF) is ook op soek na kostedoeltreffende maniere om mediesediensverskaffers te betaal wanneer slagoffers van padongelukke mediese sorg benodig. “Dit sal afgehandel word ná gesprekke met die departement van gesondheid.”

Rybewyse en toetssentrums

Die minister wil ook diens by toetssentrums verbeter om die ervaring van motoriste te verbeter en korter omkeertye te verseker. “Dit sluit in die hoeveelheid tyd wat ʼn motoris by ʼn toetssentrum moet spandeer tot die tyd wat hulle ʼn rybewys ontvang. Ons het reeds die aanlyn betaalstelsel ingestel en daarmee van nóg ʼn ry ontslae geraak waar motoriste in die verlede tyd moes spandeer.”

Mbalula sê infrastruktuur word ook hierdie finansiële jaar ontplooi om die prosesseringstyd te verbeter omdat die eenhede direk aan die departement van binnelandse sake gekoppel is om die geldigheid van die identiteit van die motoris te bevestig.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) is ook in gesprek met die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) sodat motoriste ʼn oogtoets by ʼn optometris van hul keuse kan doen en die uitslag dan direk op die stelsel gelaai word.

Mbalula sê goeie vordering is ook gemaak om die agterstand in die druk van rybewyse te takel. “Ons het reeds van die agterstand ontslae geraak wat veroorsaak is toe die masjien in November 2021 onklaar geraak het.”

Die Driving Licence Card Account (DLCA) het sedert Januarie 2022 reeds 1 026 674 rybewyskaarte uitgereik. “Teen 16 Mei 2022 het ons ʼn agterstand van 526 841 kaarte. Met die bykomende kapasiteit wat ons by die DLCA ingestel het, is ons vol vertroue dat dié agterstand teen die einde van Junie 2022 opgelos sal wees.”

Openbare vervoer

Mbalula sê sy departement bly ook verbind tot ʼn openbarevervoerstelsel wat voldoen aan die behoeftes van die gemeenskap. Die uitbreiding van die geïntegreerde openbarevervoernetwerk (IPTN) duur voort in verskeie stede en drie bykomende stede, Rustenburg, Bloemfontein en Durban. Durban ervaar tans uitdagings weens onsuksesvolle onderhandelings met taxi-operateurs oor die roetes.

Die minister het bygevoeg infrastruktuur van openbare vervoer is in ʼn uiters vervalle toestand weens diefstal en vandalisme op die spoorwegstelsel. “Die misdadigers wat ons pogings ondermyn om ʼn betroubare pendeldiens te verskaf moet aan die pen ry. Hulle gedrag het ʼn negatiewe impak op werkers wat op dié vervoer staat maak en lê ekonomiese aktiwiteit lam wat op die spoorweë staatmaak. Ons noem dit ekonomiese sabotasie en dit moet die swaarste straf tot gevolg hê.”

Die departement versoek ook ʼn verbod op die uitvoer van skrootmetaal wat ʼn “perverse aansporing is vir dié misdadigheid”. “Ons bly gereed om met die minister van handel en nywerheid saam te werk om seker te maak dié verbod word ʼn realiteit.”

ʼn Bykomende 3 100 veiligheidspersoneel is ook by Prasa ontplooi. Kapitale oordrag aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sal van R12,6 miljard in 2022/23 verhoog tot R13,5 miljard in 2024/25. Operasionele oordrag aan Prasa verhoog na verwagting ook van R7,2 miljard in 2022/23 tot R7,8 miljard in 2024/25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Marius ·

Na 28 jaar het die anc nog niks goed vir die land gedoen nie. Wat is die kanse dat hul enigiets vir die volgende 28 jaar gaan doen.

Waarnemer ·

Hier is die eintlike rede vir die skerp verhoging in die brandstof prys einde Mei.

AW ·

Openbare Vervoer….. DIÉ Taxi bestuurders sal seker maak hulle “hijack”, Brand en Vernietig wat ook die Minister in gedagte het.

Elizabeth ·

Minder praat en meer doen. Put your money where your mouth is.

JohanR ·

Die ou wil ALLES takel. Hy kom soe 20% met ietsie dan skyf hy aan na sy volgende takel. Miskien kan hy my vuil garage kom takel!

Anel ·

Die taxis beheer die openbare vervoerstelsel. As hulle nie wil hê die busse of treine moet loop nie, dan sorg hulle dat dit nie loop nie. Wonder waar kry hulle hul brandstof vandaan dat hulle nie ‘n dooie woord sê oor die verhoging in brandstof nie. In 1984, tot die prys met 1sent, van 84 sent na 85 sent per liter gestyg het, toe brand hulle amper die land af. En nou?

annie ·

Sy edele die minister weet van hoe om bitterswaar probleme op te los. Gooi nog suiker by en nog en nog. Daar was suisings dat die minister ook een van die tien+ is wat hoop op prez-skap of iets naby. Cyril het regtig ‘n flinke span ministers aangestel. Drink hy saans ‘n slaappil?

Kokerboom ·

Rerig????!!!Mnr Ramaphosa hoe lank gaan jy toelaat dat die grootbek kader jou ‘n rat voor die oë draai?

Nicky ·

Hy weet van alles kokerboom, hy sit net en kyk die skouspel, want alles verloop soos wat hy dit wil he

Swerwer ·

Mr Fikile Mbalula ek hoop dat daar werklik aan al die beloftes voldoen sal word.

Misky ·

Ag asb, asof ons dit nou moet glo. Grootste dromer saam Ramamparra se “droomstad”.

Herman L ·

Wanneer praat Mbalula twak? Antwoord: Wanneer hy sy mond oopmaak.

Dries ·

Hy het nou eers agtergekom van die slaggate nadat hy terug is van Urkrain. Vergewe hom.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die ANC se National Democratic Society (NDS) = eMzansibabwe = Zimbabwe II.
‘n Totale mislukte staat. Verban die ANC-leiers na eCuba.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.