Vervoervakbond: spoorveiligheidsverslag behoort ‘ontsporingsverslag te heet’

(Argieffoto: Twitter via @Abramjee)

Die Spoorveiligheidsreguleerder is roekeloos om toe te laat dat treine van die Passasierspooragentskap (Prasa) steeds “Russiese roulette” met die lewe van sy pendelaars en werkers speel.

Dít volgens die United National Transport Union (Untu) wat sê die reguleerder weet dit gaan dekades duur om die land se vervalle spoorinfrastruktuur te herstel. “Die jaarlikse spoorveiligheidsverslag behoort die jaarlikse ontsporing-veiligheidsverslag te heet met ʼn skokkende 36%-styging in sterftes weens veiligheidsverwante voorvalle, ʼn 23%-styging in beserings weens operasionele voorvalle en ʼn 20%-toename in veiligheidsverwante voorvalle,” het Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, gesê.

Transnet het vroeër vandeesweek ʼn 55%-styging in kabeldiefstal aangemeld wat sy vragvervoerafdeling só beïnvloed het dat 35% van al sy treine in die afgelope boekjaar gekanselleer moes word.

“Die spoorveiligheidsreguleerder het ʼn wetlike plig om regter Cassim Sardiwalla van die hooggeregshof in Pretoria – wat ʼn voorwaardelike bedryfsveiligheidspermit vir Prasa uitgereik het – oor die ware feite van die status van spoorveiligheid in Suid-Afrika in te lig.

“Die reguleerder is deeglik bewus dat die statistieke wat hy aan die publiek en die minister van vervoer, Fikile Mbalula, voorhou, gegrond is op syfers van die sogenaamde Snelspoorwegpolisie-eenheid, ʼn eenheid binne die polisie,” het Harris gesê.

Die vervoervakbond sê die reguleerder erken in sy verslag ondanks ʼn algemene 18%-afname in netwerkverkeer sedert 2012-’13, het bedryfsvoorvalle per miljoen treinkilometer met 14% gestyg, maar veiligheidsverwante voorvalle per miljoen treinkilometer met ʼn beduidende 175%.

Harris glo dié syfer is eintlik tot twee keer soveel.

“Ons lede berig dat die verskillende polisiestasies hulle weens ʼn algemene gebrek aan kennis en bevoegdheid van bakboord na stuurboord stuur wanneer hulle, in hulle vrye tyd, voorvalle probeer aanmeld.

“Die statistieke in die spoorveiligheidsreguleerder se verslag weerspieël dié slegte grap. Volgens die verslag het die diefstal van bates met 21% gestyg, opsetlike saakbeskadiging of vandalisme is 5% meer. Daar was géén treinkapings of voorvalle waar pendelaars wapens gebruik het om ʼn treindrywer te dwing om voort te gaan op ʼn ongemagtigde roete nie. Persoonlike veiligheidsvoorvalle op treine het met net 14% toegeneem en voorvalle op stasies met net 7%.

“As dít ʼn ware weerspieëling was van die werklikheid van spoorveiligheid, sou die staande komitee van Nedlac nooit vir Untu en sy geaffilieerde filiaal, Fedusa, ʼn stakingsertifikaat uitgereik het nie,” het Harris gesê.

Untu sê hy het aan Nedlac, die spoorveiligheidsreguleerder, Prasa en die polisie bewys dat Prasa nié ʼn veilige en betroubare diens kan lewer nie.

Die vervoervakbond sê die situasie gaan onveranderd bly tot pres. Cyril Ramaphosa gehoor gee aan sy eise om die probleem te takel.

Harris sê Mbalula kan ook vergeet van ʼn verandering as hy nie luister na Untu nie, en sê die vervoervakbond laat geen steen onaangeroer om te verseker dat die ware stand van die spoorwegstelsel bekend gemaak word nie.

Untu sê hy gaan nou die hof nader om die ware feite daar voor te lê, aangesien hy glo die spoorveiligheidsreguleerder kan nie daarmee vertrou word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tersia ·

Bring die Spoorweg polisie terug . Toe hulle daar was was daar weet en orde.

lanie ·

Tersia ek stem saam. In my tyd was daar verwys na die stasie blompotte, maar hulle het hulle werk gedoen. Nie hoe nie, maar behoorlik.

SjN ·

Tertia ongelukkig sal dit nie gebeur nie, net soos kommando stelsel verdwyn het, die Anc hou nie van kompetisie nie, dan kan hul nie maak soos dit tans gaan nie.

Leon Pit ·

Veiligheid het by die agterdeur uit gevlug toe die anc die land oorgeneem het toe als nog 100% WAS. Dis mos al bewys dat na 94 die land die hasepad gekies het na diep afgrond toe.

Jakes ·

Ek het 26 jaar by Rransnet gewerk en was trots daarop. Het in 1998 bedank toe die skrif reeds toe aan die muur was. Ek skaam my dood vir wat Transnet nou is, die hele spul is onbevoeg en te lui om te werk. Van bo tot onder vrot.

johan ·

Kabel gebaseerde sinjaale nie meer nodig. Waarom kan elke trein nie,n tablet met . GPS gebaseerde data app toegerus word nie ?Die tegnologie is daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.