‘Vervolging moet volg op staatskaping-verslag’

vra-ob-verslag-regsimplikasies

Prof. Koos Malan, prof. Marinus Wiechers, advokaat Albert Lamey en dr. Llewellyn Curlewis. Foto: VRA/Facebook.

Kenners van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) meen die getuienis en inligting in die voormalige openbare beskermer (OB) se staatskaping-verslag kan nie net van die tafel gevee kan word nie.

Dié verslag is verlede Woensdag openbaar gemaak nadat pres. Jacob Zuma en verskeie ministers ʼn dringende interdik teen die bekendmaking van die verslag laat vaar het. Adv. Thuli Madonsela het in dié verslag haar kommer uitgespreek oor die invloed wat die Gupta-familie glo gehad het in die aanstelling van sekere ministers in sleutelposisies. Sy het ook die tentakels van staatskaping in openbare instellings soos Eskom, SAL en die SAUK aangeraak.

Die VRA se kenners meen Madonsela het ʼn goeie verslag saamgestel, veral in ag genome die beperkte tyd en geld wat sy tot haar beskikking gehad het. Madonsela is ook geloof vir haar aanbeveling dat die president ʼn kommissie van ondersoek op die been moet bring, maar dat die voorsitter van hierdie kommissie deur die hoofregter aangestel moet word. Die kommissie moet binne ses maande terugrapporteer.

Regslui van die VRA reken die tafel is gedek vir strafregtelike vervolging van die persone wat in die ondersoek geïmpliseer word, maar het gemaan dat die implikasies van die verslag nog jare mag neem om volledig gestalte te kry.

Dr. Llewellyn Curlewis, voormalige president van die prokureursorde van Suid-Afrika, prof. Marinus Wiechers, emeritus professor in staats- en volkereg aan Unisa en adv. Albert Lamey van die Pretoriase Balie was op die paneel wat die verslag se regsimplikasies bespreek het tydens ʼn blitsseminaar in Pretoria. Prof. Koos Malan, ʼn professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het die gesprek gelei.

ʼn Groter prentjie

Wiechers meen die verslag moet ook vanuit ʼn groter politieke prentjie beskou word. “Ons leef in die laaste jare van Zuma se bewind. ʼn Hewige stryd woed tans binne die ANC oor wie Zuma moet opvolg. Die staatskapingverslag is ʼn klad op die Zuma-faksie se aansprake op presidentskap en daar sal allerhande maniere gevind word om hierdie verslag se uitwerking te weerstaan sodat die Zuma-faksie kan skoon kom.

Suid-Afrikaners mag dalk meen alles loop nou verkeerd, maar dit begin eintlik nou eers reg te loop – die wurms kruip uit die hout – ek is opgewonde want dit is hoe ʼn demokrasie werk. Hierdie is alles ontwikkeling van ʼn lewenskragtige demokrasie wat vooruit beweeg,” het Wiechers gesê.

“Daar sal nog baie water in die see moet loop voor ons finaliteit oor die staatskaping-verslag het. Soos met enige kommissie of strafregtelike proses wat groot onsekerhede het, sal daar gespeel word vir tyd, maar daar is genoeg getuienis en daar moet eenvoudig vervolging kom,” het Curlewis gesê. Hy meen die regsimplikasies van die staatskapingverslag, en selfs die 783 kriminele klagte teen Zuma, kan nie verjaar nie en daarom kan daar ook met ʼn private strafregtelike proses begin word indien die kommissie en nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie die aantygings in die verslag opvolg nie.

Die kenners was dit ook eens dat nog ʼn positiewe verskynsel van die gebeure rondom om die staatskapingverslag die verskuiwing is van magsentra na burgerlike instellings. “Hierdie organisasies word al meer doeltreffende remme en teenwigte wat die Grondwet in standhou. Die handhawing van konstitusionele orde lê nie meer by die staatsinstellings nie,” het Malan gesê.

Lamey meen dit is nou elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid om deel te neem aan die land se demokrasie. “Almal het ʼn beiteltjie waarmee hulle kan kap. Die ANC het eers daarin geslaag om hulle gebrekke weg te steek en toe te pleister, maar die krake begin nou wys en selfs ANC-lede maak nou beswaar teen die vergrype in die staat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bendons ·

VRA se artikel is in die kol. Dankie Menere van VRA. Ons sal Langenhoven se Bytel gebrek.

hoe nou ·

Daai verslag gaan onder die mat in gevee word want onthou zuma en kie is untouchable

snoefie ·

verduidelik dit aan gwede mantashe. vertel hom mooi wat kriminele oortredings is. wat alles in die staatkapingsverslag staan. maar praat STADIG sodat hy kan verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.