Vervolging wink ná padwoede-moord

Nicky Botes kort voor sy dood by sy Toyota Hilux. (Foto: Facebook)

Die man wat Nicky Botes in Junie vanjaar tydens ʼn padwoedevoorval in Klerksdorp, Noordwes, doodgeskiet het, gaan nou deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg word.

Dennis Hearn is destyds van moord aangekla, maar eers later in hegtenis geneem nadat die burgerregte-organisasie AfriForum by die saak betrokke geraak het.

Hy het op 8 Desember vanjaar vir die eerste keer in die hof verskyn. Die verhoor sal waarskynlik volgende jaar begin, hoewel ʼn datum nog nie bekendgemaak is nie.

Botes se pa, Peet Nieuwoudt, het dié organisasie se privaatvervolgingseenheid genader nadat daar oënskynlik geen vordering met die saak was nie en die polisie glo geen noemenswaardige inligting aan Nieuwoudt verskaf het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Botes, ʼn inwoner van Schweizer-Reneke, dood is nadat hy met die beskuldigde, ʼn sekerheidswag, in ʼn woordewisseling betrokke geraak het. Dit het later op ʼn vuisgeveg uitgeloop en Hearn het toe glo ʼn vuurwapen uitgehaal en Botes in die kop geskiet.

“Ondersoekers van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die saak en die gebrek aan vordering met die ondersoek onder die aandag van die senior aanklaer van die NVG in Klerksdorp gebring en met hom oor die saak beraadslaag.

“Die betrokke aanklaer het die polisie daarna versoek om die dossier aan hom beskikbaar te stel. Nadat hy die dossier bestudeer het, het hy opdrag gegee dat Hearn onmiddellik vervolg moet word.”

Natasha Venter, raadgewer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hoewel die staatsaanklaer se beslissende optrede prysenswaardig is, is dit kommerwekkend dat die privaatvervolgingseenheid éérs betrokke moes raak om te verseker dat geregtigheid geskied.

“Die slagoffer en sy familie verdien geregtigheid en die beskuldigde moet verantwoordbaar gehou word. Ons sal daarom voortgaan om die familie by te staan en die saak te monitor,” sê Venter.

Maroela Media het ʼn navraag aan die NVG gestuur en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harry ·

When was he found guilty, thought they only started prosecution now?

Blikkies ·

Dit klink seker simpel, maar hulle kan maar die Polisie se deure sluit en die sleutel weggooi, hulle beteken absoluut niks vir niemand nie, vir die meeste net nog ‘n Job’. (Ek voel bitter jammer vir die min goeie lede en speurders wat se harte nog daar is en die beste probeer wat hulle kan, maar alleen kan hulle nie die wa deur trek nie). Die morone verstaan nie eers die basiese beginsels van ‘n misdaad toneel nie, wat nog van enige iets ondersoek?? Ek voel jammer vir my volk, daars donker wolke op die horison.

Di ·

Die NVG is useless verby! Lyk of GEEN sake aandag geniet totdat AfriForum op hulle nekke begin le vir antwoorde. Raak ontslae van die spul, hulle dien geen doel nie. Hoveel ANDER gevalle is daar nie ook wat mense wag en niks word gedoen nie. Duidelik werk hulle vir die ANC Kaders

Harley Davidson ·

Padwoede is ‘n lelike ding en verantwoordelik vir baie goeie mense wat ongehoorde dinge gedoen het in the spur of the moment en wie of dood is of hul lewens vernietig het.

madels ·

Genade pluk sommer geweer uit en skiet dood.. hoe verskriklik :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.