Vervolgingsgesag moet sê oor korrupsieklag teen Mbalula

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die burgerregtegroep AfriForum se privaatvervolgingseenheid eis antwoorde by die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, oor hoe die vervolging van vervoerminister Fikile Mbalula vorder.

AfriForum het in 2019 reeds strafregtelike klagte van geldwassery en korrupsie teen Mbalula ingedien, maar die privaatvervolgingseenheid is bevrees daar het tot dusver dadels van gekom.

“Dit is nou reeds drie jaar sedert hierdie strafregtelike klagte aanhangig gemaak is. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se voortdurende verskonings dat die ondersoek nog hangend is, kan dus nie meer aanvaar word nie, veral aangesien die openbare beskermer (OB) se verslag al die feite en selfs die name van getuies bevat, asook die diensverskaffer identifiseer,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid.

AfriForum het in Augustus 2019 die klagtes van geldwassery en korrupsie teen Mbalula as voormalige minister van sport ingedien nadat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, na bewering in 2017 tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het.

AfriForum het die OB later daardie jaar versoek om dié reis te ondersoek en die OB het bevind dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met die reis oortree het.

Nel sê nou die enigste afleiding wat oor die onverklaarbare gebrek aan vordering in die saak gemaak kan word, “is dat sommige mense, in George Orwell se woorde, meer gelyk is as ander en dat die NVG onwillig is om op te tree teen ’n kabinetsminister wat in die regte politieke kamp is”.

Nel verwys voorts na die aanklaer in die saak teen oudmin. Bathabile Dlamini se onlangse argument dat die gemeenskap ’n sekere standaard van verantwoordbaarheid van staatsamptenare vereis.

“Ons stem volkome saam met hierdie sentiment en vermaan die NVG om Mbalula ook met dieselfde ingesteldheid en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te vervolg. Die afleiding dat verbondenheid aan sekere politieke faksies verskansing teen vervolging bied, word duidelik.

“Indien die NVG aanhou versuim om Mbalula te vervolg, sal die privaatvervolgingseenheid genoop wees om die regsremedies tot ons beskikking in te stel om die NVG te dwing om ’n besluit te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

As ek of jy in die privaatsektor vermoed word van bedrog, korrupsie of wat ook al, word jy summier huis toe gestuur. Jy kry ‘n verhoor datum en word genoegsame tyd gegun om voor te berei. Daar is ‘n beslissing en dis klaar. Jy bly nie in die pos aan en gaan lustig voort nie. Jare gaan verby en jy kry bonusse en verhogings asof dit uit die mode gaan. Absurd!!!!!

Jack

Die minister is een van die mees onbevoegdes in die regering.Hy kom al ‘n ver pad van saamry op die soustrein en NIKS doen.Hy het einde laasjaar gesê en gedroom deur te sê hy sal die treinstelsel in SA in een jaar weer aan die gang kan kry en alles sal weer reg wees.Net een jaar is nodig.Nou ja meskien sal iemand hom kan wakker skud anders sal Afriforum dit nou maar moet doen soos in al die ander gevalle van versuim om te vervolg.

domheks

Hy dink hy is kat se snorbaarde!

Samuel

Die kaders beskerm tog mekaar. Miskien het Batohi opdrag gekry om nie te vervolg nie. Alles is moontlik in Suid-Afrika.

Marius

Dit is tyd dat die nvg hul werk begin doen, en dit is nie om hoë profiel oortreders se sake onder die mat in te vee nie.