Verwaarloosde baba kry uiteindelik geboortesertifikaat

Argieffoto

Die departement van binnelandse sake het uiteindelik ʼn 18 maande oue baba geregistreer, onder druk van ʼn bevel in die kinderhof.

Aldus Carol Mohlala, van Lawyers for Human Rights, het maatskaplike werkers gesê Baba Senelile* is kort ná haar geboorte in ʼn veld in Pretoria gevind. Daar was nie enige teken wie haar ouers is nie en die departement van binnelandse sake het geweier om ʼn geboortesertifikaat uit te reik.

“Die gevolg is dat Senelile nie aangeneem kon word deur die persone in wie se veilige sorg sy is nie. Kort nadat sy gevind is, het hulle al vir haar begin sorg,” het Mohlala verduidelik. “Sy het ook dringende mediese behandeling nodig gehad en die egpaar kon dit verskaf, selfs al het hul mediese fonds die eis verwerp, omdat sy nie gedokumenteer is nie.”

Die kinderhof in Pretoria het ʼn bevel uitgereik en dit is op die regsdienste van die departement bedien en die departement was gevolglik verplig om daarop te reageer.

Mohlala het gesê die LHR verteenwoordig verskeie kinders in dieselfde posisie. “Dit is ʼn bewys dat die departement óf ʼn besluit geneem het óf nie genoeg doen om seker te maak dat plaaslike kantore in kennis gestel is van die wette wat vereis dat hierdie tipe kinders geregistreer moet word nie.”

Die departement het in ʼn verklaring gesê daar was nie enige aanduiding wie haar ouers is nie en Baba Senelile* is klaarblyklik verwaarloos.

DHA het gesê Senelile is nou geregistreer en word teen mensehandel beskerm. Sy is veilig by die familie waar sy liefdevol versorg word. Die behoorlike aannemingsproses kan nou voortgaan. “Sy sal skool toe kan gaan. Haar verwaarlosing sal haar nie meer haar lewe lank agtervolg nie, want sy het nou ʼn wettige bestaan in ons samelewing.”

Baba Senelile* is ʼn skuilnaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis ·

Dit goeie nuus. As iemand met kennis dalk kan se, gaan so n kind dan die stamvader van sy nageslag wees want daar is geen ouers nie. Want hy of sy moet nog aangeneem word, en was biologies nie uit die aanneem ouers se huwelik gebore nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.