Verwagting van wyndruifoes krimp verder

(Foto: Erfan Parhizi / Unsplash)

Suid-Afrikaanse wynprodusente verwag dat die eerste wyndruifoes van die jaar dalk die vierde kleinste oes in 17 jaar kan wees. Dit is kleiner as die skatting vir die 2023-oes wat produsente in Desember aangekondig het.

Die afname in die skatting word hoofsaaklik toegeskryf aan wingerdontworteling en beurtkrag wat daartoe lei dat daar nie genoeg elektrisiteit is vir besproeiingspompe om doeltreffend te werk nie.

“Die seisoen is hoofsaaklik gekenmerk deur gemiddelde koue-eenhede en minder sneeu op bergpieke as vorige seisoene,” sê Conrad Schutte, bestuurder van die organisasie Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskatting saam met die Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) saamstel.

“Dit was egter steeds genoeg om aan wingerde se koue behoeftes te voldoen. Wintertemperature was meestal warmer in al die wynproduserende streke en reënval aansienlik minder, behalwe in die Noord-Kaap.”

Schutte sê ʼn warmer lente en droë grondtoestande het veroorsaak dat knoppe vroeër gevorm het.

Hoewel die eweredigheid van die knopvorming bevredigend was, was sommige kultivars, soos chardonnay (witdruifsoort), in sommige gebiede ongelyk. Bloeityd het ook vroeër aangebreek by die meeste wingerde, met groot verskille wat by die set van kultivars voorgekom het.

Die seisoen het gedurende die tweede week van Desember verlede jaar aansienlik verander toe reënval ʼn welkome verligting vir ʼn droë en warm seisoen gebring het. Die reën het druk van besproeiingskedules verlig aangesien ondergrondse watervlakke laer as normaal was. Produsente kan boonop weens beurtkrag ook nie die besproeiingskedule doeltreffend toepas nie.

Saam met die reën was daar sporadiese haelskade in die Paarl, Worcester en Robertson.

Swamsiektedruk, veral poeier- en donsskimmel, is deur die nat toestande vererger en produsente moes spuitprogramme daarvolgens aanpas. Paaie en infrastruktuur is ook hier en daar beskadig.

“Die afname in die skatting word hoofsaaklik toegeskryf aan wingerdontworteling, veral in die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland,” sê Schutte.

“Verder sal hoë siektedruk, veral die gevolglike poeieragtige skimmelinfeksies in die Noord-Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Paarl, Stellenbosch, Kaapse Suidkus en Kaapstad, die oesgrootte negatief beïnvloed.

“Hittepieke in Desember en Januarie het ook sonbrand veroorsaak, veral in die Swartland, Worcester en Breedekloof. In alle streke, hoofsaaklik die gebiede wat intensief besproei word, sal die gebrek aan elektrisiteit wat nodig is vir besproeiingspompe om te werk, die oesgrootte verder negatief beïnvloed.”

Wyndruifproduksie in die Klein-Karoo is na raming hoër as in die 2022-seisoen danksy jong wingerde wat begin produseer en belowende watervlakke. Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders sal in die derde week van Februarie 2023 vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JD ·

Nou wat moet ons n die donker drink?
Water? Vir julle my vegiftig of so?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.