Verwarring voor Kilian in hof verskyn  

Die polisievangwa het Kilian eers by die verkeerde hof afgelaai. Foto: Eunice Stoltz

Verwarring het vanoggend voor Zane Kilian se hofverskyning geheers toe hy onder streng polisiebegeleiding eers by die verkeerde hof afgelaai is.

Kilian, die enigste verdagte wat sover in hegtenis geneem is in verband met die moord op speurhoof lt.kol. Charl Kinnear, het vandag in die hof verskyn in verband met die skietery op die Kaapse prokureur William Booth.

In pleks van die landdroshof is Kilian by die streekhof, wat langs die landdroshof is, afgelaai. Die polisie het egter gou hul fout agtergekom en Kilian terug in die vangwa gelei en in tru-rat, terwyl die aankomende verkeer herlei is, hom na die landdroshof gevat.

Zane Killian het onder streng polisiebegeleiding in die hof verskyn. Foto: Eunice Stoltz

Kilian het verskyn op aanklagte wat verband hou met die Wet op Georganiseerde Misdaad, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die onwettige onderskepping van kommunikasie en toegang tot en onderskepping van data.

Hy en sy medebeskuldigdes word aangekla in verband met die mislukte sluipmoordaanval op Booth op 9 April vanjaar. Die saak is tot 30 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Dit het intussen ook aan die lig kom dat Kilian ʼn nuwe advokaat het. Adv. Johan van Aswegen is reeds sowat tien dae gelede in die plek van adv. Eckhard Rosemann aangestel.

Eric Bryer en Johan van Aswegen buite die Kaapstad-landdroshof. Foto: Eunice Stoltz

Volgens Eric Bryer, opdraggewende prokureur in Kilian se regspan, is dit weens ʼn konflik van belange. “Die familie het besluit dat hulle iemand anders verkies, so ek het hom vervang ooreenkomstig die familie se versoek.”

Bryer het net kortliks uitgebrei oor dié botsende belange. “Daar is sonder my medewete ʼn dokument by die hof ingehandig en vir my as opdraggewende prokureur het dit ʼn probleem veroorsaak wat nooit eers moes plaasvind nie. Voordat jy ʼn dokument inhandig moet dit vooraf 100% geverifieer word, en ongelukkig het dit nie so gebeur nie. So dit is in die beste belange van die kliënt dat hy [Rosemann] vervang is.”

Zane Killian het onder streng polisiebegeleiding in die hof verskyn. Foto: Eunice Stoltz

Bryer het egter nie gesê watter dokument by die hof ingehandig is nie. Dit kan moontlik verband hou met die klag van bedrog wat op 26 Oktober teen Kilian in die Bellville-streekhof aanhangig gemaak is. Kilian het in die streekhof verskyn in verband met die moord op Kinnear.

Een van die aanklagte, wat ook met die saak van Booth verband hou, sluit die onregmatige onderskep van kommunikasie in. Volgens Kilian se regspan het hy ʼn sertifikaat wat aandui dat hy binne sy regte as private speurder opgetree het om die kommunikasie te kon onderskep, of na te spoor. Maar dié sertifikaat blyk vals te wees.

Kilian verskyn weer op 27 November in die Bellville-streekhof in verband met die sluipmoord op Kinnear op 18 September in Bishop Lavis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thea ·

Hierdie is ‘n ondergrondse mafia en hulle is stuk stuk besig om ontbloot te word.

Persheks Adri ·

Verkeerde hof hoe deur die akkas is die uniforms? Oe ee ee aikona ne. Nie pille vir julle nie ou Cele se trots die klomp

Johann ·

Askuus? Is dit die bevoegdheid en respek wat die polisie het vir iemamd wat met sy lewe geboet het vir reg en geregtigheid?

SHAME ON YOU!!!!! Sê als van Cele se standaard van sy magte wat sy “mag” toepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.