Verwerping van Kaapstad-droogteheffing verwelkom

Die Stad Kaapstad. Foto: Phillip Bruwer

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag die verwerping van voorgestelde droogteheffing deur die Stad Kaapstad verwelkom.

Deon de Jager, AfriForum se streekskoördineerder vir die Wes-Kaap, het gesê tydens ʼn periode van openbare kommentaar het AfriForum kommentaar ingedien teen die voorgestelde droogteheffing, terwyl daar ook oorweldigende druk uit die groter gemeenskap was.

“Gevolglik het die Kaapstadse stadsraad die voorgestelde droogteheffing Vrydag tydens ʼn spesiale vergadering verwerp. AfriForum doen ʼn beroep op die Kaapstadse stadsraad om wys op te tree tydens die geweldige droogtetoestand in die Kaap.”

Die verwerping volg ʼn dag nadat die Stad Kaapstad nuwe noodmaatreëls aangekondig het aangesien dit lyk of Dag Zero onvermydelik is.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het verlede week gesê ondanks die feit dat Kapenaars maande lank gemaan is om water te bespaar gebruik 60% steeds meer as 87 liter per dag. “In dié stadium moet ons aanneem dat hulle nie hul gedrag gaan verander nie en dat die kans dat ons nou Dag Zero op 21 April 2018 gaan bereik baie waarskynlik is.”

Inwoners van Kaapstad se waterverbruik word van 1 Februarie tot 50 liter per persoon per dag beperk. De Lille het gesê die nuwe vlak 6B-waterbeperkings het ten doel om die nuwe mikpunt van 450 miljoen liter water per dag te bereik. “Dit sal vir 150 dae van toepassing wees waarna die stad weer die situasie sal evalueer.”

Sy het verlede week al voorspel dat die voorgestelde droogteheffing waarskynlik laat vaar gaan word weens die protes van Kapenaars dat dit onregverdig is. “Ek verstaan die reaksie en dit was ʼn moeilike les vir die stad. Die stad het die heffing voorgestel om seker te maak dat ons kan voortgaan om belangrike en noodsaaklike dienste te lewer tydens die krisis.”

Daar is intussen 200 plekke geïdentifiseer waar spesiale waterpunte opgestel gaan word waar mense ná Dag Zero water sal kan gaan haal. Dié plekke sal vandeesweek bekendgemaak word.

Volgens De Lille word daar hard gewerk om die noodplan, wat ontsouting, die gebruik van grondwaterbronne en die hergebruik van water insluit, gereed te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hoop ·

Hoop net almal se water word toegedraai. Daar is woon areas met gesamentlike water punte waar krane oop vergeet of gelos word. Daar is mense wat nie eens weet hul moet minder gebruik.

Hoop saam jou ·

Hoop, ek het nou al vanaf 2 bronne gehoor dat die Kaapse vlakte nie water spaar nie. In die 1 geval weet hulle glo nie eens daarvan of wat Level 5 beteken nie.
Ek neem aan dit is omdat hulle nie vir water betaal nie. Volgens my is dit juis die armste en die rykste buurte wat die meeste opvoeding moet kry oor die water krisis!
Ek wens so ek het geweet wie om te kontak daaroor dat daarna gekyk kan word en uitvind wat die situasie is in die buurte! Dis net Jan Alleman hier in die middel wat moeite doen om water te spaar.
Maroela Media, kan Afriforum nie bietjie inkyk hierna en agter die kap van die byl kom nie??

Avokado ·

Kan iemand asb vir my verduidelik hoe Kaapstad dit goeddink om midde die waterkrisis aan te hou met die aanbied van geleenthede wat duisende mense soontoe lok wat net nog meer druk op die skaars waterbronne plaas? Desember was dit die sewesrugby, toe die kriekettoets tussen SA en Indie en Maart is dit die fietstoer. Ek verstaan dit nie.

jaco ·

Die droogteheffing sou my R50 per maand gekos het. Toe word dit geskrap en watertariewe word eerder verhoog. R100 se water is nou op na R400. So eintlik het al die gekla teen die droogteheffing niks gehelp nie.

Cheetah ·

Daar sou al in november kabelkoppelings gedoen geword vir die betrokke ontsoutingsaanlegte.

Dit het tot my ore gekom dat dit gestaak is en tot op hede is geen koppeling gedoen nie.

Wie vertel nou leuens?
Is daar tender probleme wat nou uitdop?
Is daar impakstudies wat dit nou vertraag?

Wie gaan vir ons die waarheid deurgee?

Rupert Ashford ·

As dit impakstudies en hofsake van sg “groen” groepe is wat dit dwarsboom, moet die areas waar daardie mense woon geteiken word en moet hulle dan hulle sin gegee word om sonder water en krag te lewe sodat hulle ‘ n voorbeeld vir die res van ons kan stel.

Carina ·

Ek sê weer, net 200 water punte in die CBD is nie naastenby genoeg om almal van water te voorsien nie. In 2016 het net die CBD al 3.74miljoen mense gehad. Daar is nou al baie meer. Deel dit deur 200 water punte en elke punt moet 18700 mense bedien. Sê dit neem 2min om 1x25lit kan vol te maak, dit gee jou 623uur of amper 26dae om almal se kanne vol te maak. En dis net 1 keer se volmaak, jy het elke dag ‘n kan nodig, per persoon in jou huishouding. So dis heeltemal belaglik en onmoontlik om te doen. En tot waar strek die area wat hulle wel die water gaan toedraai? Net die CBD of die hele Weskaap area wat water uit die genoemde damme kry? Iets maak glad nie sin nie.

Louwtjie ·

Hoop, slegte nuus: die krane gaan nie toegedraai word in die “densely populated” areas nie … so weereens word ons wat elke maand getrou ons munisipale rekening betaal en na 2 of 3 (beplande ) kinders opgehou voortplant het, gestraf.

Troos ·

Daar is darem een troos, julle kan in die see gaan was. Ons hier langs die Vuildam (voorheen Vaaldam) kan nou reeds al weens rioolbesoedeling dit nie daarin waag.

Antjie ·

Ek dink, ipv om die krane toe te draai, en die riolering te verstop, pomp die stelsels vol seewater. Dan kan toilette darem nog loop en innoverende burgers kan hul eie ontsouting ook doen. Ek dink selfs om kos te stoom oor seewater, gaan dit nie oneetbaar maak nie. Dit sal onnodige vermorsing in digbevolkte gebiede ook ontmoedig, want hulle sal gou genoeg agterkom die morsery maak die hele wêreld sout! Ek is oortuig dat desentralisering van vars-waterverskaffing sal op die lang termyn volg, en baie beter werk as 200 kolleksiepunte.

Christa ·

Antjie, ek STEM saam met jou – Seewater vir die toilette, en ook vir mense wat in die middle van die nag nog steeds motor WAS!

Andre ·

Dit is hoekom daar toestromings beheer was in die verlede. Die Kaap is oorbevolk, en die regering doen niks daaromtrent nie.

Avokado ·

“When the last tree is cut, the last fish is caught, and the last river is polluted; when to breathe the air is sickening, you will realize, too late, that wealth is not in bank accounts and that you can’t eat money.” – Alanis Obomsawin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.