Verwoerd se seun onthou Monument se inwyding

Dr. Daniel Verwoerd en sy dogter Jana Meyer. (Foto: Verskaf)

Dr. Daniël Verwoerd, die derde oudste kind van die eertydse eerste minister, dr. Hendrik Frensch Verwoerd, het Woensdag die Voortrekkermonument (VTM) saam met sy dogter, Jana Meyer, besoek.

Meyer kuier tans uit Engeland by haar ouers wat in Wapadrand in die ooste van Pretoria bly.

Sy vertel dis die eerste keer in tien jaar wat haar pa die monument besoek.

Verwoerd jr. (88) vertel nostalgies hoe hy self as 16-jarige seun en Voortrekker in 1949 die inwyding van die monument bygewoon het.

“Ek sal daai dag nooit vergeet nie. Daar was duisende en duisende mense en ek het op die verhoog die sambreel oor genl. Jan Smuts (voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika) vasgehou.

“Ek is baie beïndruk deur al die nuwe uitstallings hier. Dit is ook wonderlik om al die herinneringe te herleef. Die plek het só baie verander vandat ek laas hier was, én die veranderinge lyk baie mooi,” sê hy.

Dr. Daniël Verwoerd en sy dogter Jana Meyer by die Presidente‑ en Premiers-uitstalling. (Foto: Verskaf)

Pa en dogter het die Presidente‑ en Premiers-uitstalling by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument besoek. Daar het hulle saam na die uitstalling oor sy pa en haar oupa gekyk.

Met die opening van dié uitstalling verlede jaar, ter viering van die sestigste herdenking van die Republiekwording van Suid-Afrika, het die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, die volgende oor Verwoerd sr. gesê:

“Dr. Verwoerd was bekend vir die persoonlike gesag wat hy uitgestraal het en vanuit eie geledere is hy soms daaroor gekritiseer. Hy was intellektueel almal se meerdere, met die gevolg dat daar nie veel ruimte vir verskille met hom was nie, lui ’n bekende beswaar.

“Die historikus prof. Herman Giliomee gee onder meer in sy gebalanseerde kritiek aandag hieraan. Maar wat ook al die geldigheid van dié kritiek is, is die vraag steeds of sy gesag ‘n tirannieke, despotiese en gewelddadige gesag was. Die antwoord is ‘n duidelike ‘nee’ – veral as die eerstehandse ervaring van mense graadpleeg word wat jare saam met hom gewerk en hom baie goed geken het.”

‘n Jong Daniël Verwoerd hou die sambreel vir Jan Smuts vas tydens die inwyding van die Voortrekkermonument.

HF Verwoerd was die opvolger van premier JG (Hans) Strijdom, wat in 1958 oorlede is. Verwoerd was eers professor in Stellenbosch en hoofredakteur van Die Transvaler. Hy het in 1960 ’n sluipmoordaanval oorleef, waarna hy in 1966 in die parlement deur Dimitri Tsafendas doodgesteek is.

“Ek het al baie gehuil vandag. Dit het my soveel aan my kinderjare herinner en om die uitstallings te kon sien van my oupa was baie spesiaal,” het Meyer later aangedaan gesê.

Dr. Verwoerd jr. het jare gelede ’n nis in die Voortrekkermonument se tuin gekoop vir hom en sy vrou, wat dít destyds voorgestel het as hul laaste rusplek.

Hy en sy dogter het die nistuin as hul laaste stop besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Die goeie ou dae….. Waar het alles dan skeefgeloop? Hoekom gaan dit dan nou so sleg met ons eie mense?

Barney ·

Miskien omdat ons eie mense so onverdraagsaam is en hulle self beter ag as enigiemand anders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.