Verwoestende brand op Tafelberg is gestig – verslag

‘n Brand het Sondagoggend aan die hang van Tafelberg uitgebreek. (Foto: Verskaf)

’n Ondersoek het aan die lig gebring dat die brand wat twee maande gelede aan die voet van Tafelberg uitgebreek en verwoesting gesaai het, met opset deur ’n persoon gestig is.

Enviro Wildlife Services het ná afloop van ’n ondersoek na die brand in ’n verslag bekendgemaak dat genoegsame bewyse daarop dui dat die brand kwaadwillig gestig is.

Volgens die ondersoeker, Rob Erasmus, kan die oorsaak van die brand dus nie aan natuurlike faktore toegeskryf word nie. Die hawelose man wat aanvanklik in hegtenis geneem is omdat hy die brand vermoedelik per ongeluk gestig het, word ook nie meer verdink nie.

Erasmus het die presiese plek en tyd waar die brand begin het, ondersoek deur middel van kringtelevisiemateriaal en foto’s wat hy op sosiale media bekom het.

Die brand het op 18 April aan die voet van Tafelberg, naby die Rhodes-gedenkteken, uitgebreek en ’n paar dae lank gewoed en blitsvinnig versprei.

Volgens Enviro Wildlife se verslag dui kringtelevisiemateriaal dat die brand omstreeks 08:40 in die veld onder warm en droë weersomstandighede ontstaan het. ’n Noordwestelike wind van 12 km/h het daartoe bygedra dat die brand vinnig versprei het.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 11 strukture is in die brand beskadig of vernietig. Dit sluit woonhuise, ses kampusgeboue by die Universiteit van Kaapstad (UK), twee erfenisgeboue, waaronder die ikoniese Mostert se Meul en die UK se historiese Jagger-biblioteek, en die restaurant by die Rhodes-gedenkteken in.

Minstens 600 ha grond in Tafelberg Nasionale Park het ook afgebrand.

Dr. Luthando Dziba, SANParke se waarnemende uitvoerende hoof, het in ’n verklaring die harde werk van die brandbestrydingspan, waaronder SANParke, NCC Environmental Services (Edms.) Bpk., Stad Kaapstad, Working on Fire, Volunteers Wildfire Services en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), geloof. Altesaam vyf brandweermanne is beseer terwyl hulle die brand bestry het.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, sê die DA verwelkom enige voortslepende strafregtelike ondersoeke na die oorspronklike oorsaak van die brand en die toenemende vermoede dat dit doelbewus gestig is.

“As dit die geval is, hoop ons die verantwoordelikes word binnekort aangekeer,” sê Bryant.

Hy sê indien die verslag daarop dui dat iemand nalatig was, moet dit deeglik ondersoek en die nodige stappe gedoen word.

“Die vernietiging van openbare en private geboue, asook baie kosbare historiese dokumente het verwoestende gevolge en mag nie weer gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Ek is nie ‘n siener nie maar hierdie was so duidelik soos daglig.

Samuel ·

Kan nie anders as om saam te stem nie. Historiese geboue, boeke blah blah blah, is totaal waardeloos vir hierdie booswig. Seker nog ‘n agtergeblewene.

Sarel ·

Net do met votige gevalle maar moet nie julle asem ophou nie. Net soos voorhedn sal NIEMAND vervolg word nie

Francois ·

Ek is jammer maar hulle gaan niemand vang vir die brandstigting nie

Boerkind ·

Seker aangesê as jy my vra… Die kaders het nog nie die Wes Kaap in hul kloue nie.

Sarel ·

Weet dit was Brandstigting…wil weet wanneer word iemand….behalwe o skuldige Bergie…gearresteer
en vervolg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.