‘Verwoestende mynbouhandves moet tersyde gestel word’

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Die vakbond Solidariteit het Woensdag tydens ʼn konferensie in Centurion hul hofstukke vir die tersydestelling en afskaffing van die nuutste Mynbouhandves bekend gemaak.

Solidariteit sal ook binnekort as vriend van die hof toetree ter ondersteuning van die Kamer van Mynwese se hofgeding teen dié handves.

Volgens Anton van der Bijl, die hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, veg Solidariteit saam met die Kamer van Mynwese teen die verwoestende impak wat dié handves vir die mynbousektor inhou. “Solidariteit se rol is om inligting aan die hof te verskaf en die Kamer van Mynwese met kundigheid by te staan,” het Van der Bijl gesê.

Van der Bijl voer aan dat die nuutste handves diskriminerend, onregmatig en ongrondwetlik is en dat dit daarom hersien en tersyde gestel moet word. “Die uitwerking en impak wat dié handves op Suid-Afrika se ekonomie in die geheel, en in besonder op die mynbedryf het, is teenproduktief in die lig van die handves se verklaarbare doelwitte. Die aanvaarding van die handves sal dus irrasioneel wees,” het Van der Bijl gesê.

Van der Bijl sê voorts dat die handves verskeie klousules bevat wat kommer wek, byvoorbeeld dat 1% van die omset as spesiale dividend aan SEB- (swart ekonomiese bemagtiging) aandeelhouers betaal moet word. In 2016 het die mynbousektor se totale dividende R6 miljard beloop en 1% van die omset was R5,7 miljard. Dit impliseer dat 95% van dividende se waarde aan die 30% SEB-aandeelhouers betaal sou moes word. “Die impak op die ander aandeelhouers se aandeelwaarde gaan verreikend wees,” het Van der Bijl gesê.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se verslag waarin die negatiewe impak van die handves op ʼn reeds sukkelende bedryf en die ekonomie in die geheel uiteengesit word, is ook Woensdag tydens die konferensie bekend gestel. Die verslag toon dat die mynbouhandves hoegenaamd nie die mynbousektor gaan versterk nie. Inteendeel, dit gaan die Suid-Afrikaanse mynbousektor erg benadeel. “Die reaksie van beleggers op die handves skep alreeds onsekerheid en plaas dus ʼn demper op mynboubedrywighede,” het Van der Bijl bygevoeg.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsinginstituut, het gesê die vakbond voel positief daaroor dat hulle sukses met die hofgeding sal behaal. “Ek dink dit is duidelik ʼn roekelose minister het dié mynbouhandves ter wille van spesifieke mense se belange saamgestel en dit sal net ʼn klein groepie mense bevoordeel. Hierdie handves is opgestel onder die dekmantel om arm swart mense op te hef, maar dit sou kwalik daarin kon slaag.”

Mulder en Van der Bijl het bygevoeg die vakbond is nie gekant daarteen dat swart mense bemagtig word nie, maar indien die mynbouhandves soos dit nou daaruit sien ingestel word, sal dit die bedryf vernietig.

Mulder het bygevoeg Solidariteit is ook sterk gekant teen die wyse waarop die handves saamgestel en aangekondig is.

Volgens Mulder sal adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat moontlik binnekort by pres. Jacob Zuma as die land se staatshoof sal oorneem, hopelik die vernietigende impak van die handves op die bedryf insien en dit ook vinnig heroorweeg. Hy het egter gewaarsku dat die ANC steeds sy SEB-beginsels slaafs sal navolg, al is Ramaphosa ook staatshoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Sonder om pessimisties te wees kan ek net saamstem met Mnr. Mulder, dis dieselfde narre, net ander maskers.

Graaf ·

Tien teen een ‘n minister wat nog nooit ‘n pik en graaf hanteer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.