Verwoestende storms: Dodetal styg; rampgebiede verklaar

Skade by Rossgro in die Eloff-gebied in Mpumalanga ná ʼn hewige storm Maandagmiddag (9 Oktober 2017). Foto: Verskaf

Altesaam 11 mense is dood in verwoestende storms wat Maandag en Dinsdag in KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga gewoed het.

Dié storms wat veral stortvloede tot gevolg gehad het, het ʼn spoor van vernietiging agtergelaat nadat dit onder meer openbare instellings, kommersiële eiendomme, behuisingsinfrastruktuur, paaie en brûe verwoes het. Water- en kragtoervoerprobleme is ook in talle dorpe aangemeld as gevolg van die storms.

Onder die 11 mense wat dood is, is ʼn agtjarige kind wat deur weerlig getref is en ʼn 46-jarige man wat verdrink het toe hy ʼn rivier probeer oorsteek het. ʼn Polisiebeampte is dood toe reuseskeepshouers deur die stormwind omgewaai en bo-op sy motor geval het. Nog ʼn man wat saam met hom in die motor was, is beseer. Vier ander mense, onder wie ʼn kleuter wat deur vloedwater meegesleur is toe ʼn kleuterskool oorstroom is, het omgekom.

Die storm in Durban (Foto: Twitter)

Willies Mchunu, KwaZulu-Natal se nuwe premier, het gesê minstens 133 skole in dié provinsie benodig herstelwerk ná die storm. Herstelwerk aan slegs die skole in die provinsie word geraam op ongeveer R136,5 miljoen.

Die versekeringsgroep Santam het Donderdagaand in ʼn verklaring gesê dat hy spesiale eise- spanne na dié dele van die land stuur om sy lede by te staan wat deur die storm geraak is. Die organisasie het gesê sy fokus is nou op die implementering van sy noodbestuursplan.

Ebrahim Asmal, Santam se uitvoerende hoof van eise, het gesê dié plan behels die versending van spesiale eise- spanne na geaffekteerde gebiede om direk met kliënte te werk.

Die storm in Durban (Foto: ANA)

“Die omvang en geografiese verspreiding van hierdie storm het ons eisespanne onder geweldige druk geplaas. In sulke situasies is ons prioriteit altyd om te help in noodgevalle, veral in gevalle waar individue byna alles verloor het as gevolg van die storm,” het Asmal gesê.

“In sulke omstandighede duur dit gewoonlik ʼn paar dae om ʼn volledige prentjie van die skade te kry en om die koste en die omvang van die eise wat ontvang word te bepaal. Ons sal eers ʼn akkurate beeld van die impak van die storm in die volgende 48 uur kan gee.”

Mchunu het intussen KwaZulu-Natal tot ʼn rampgebied verklaar. David Makhura, premier van Gauteng, het ook sommige dele van Gauteng tot ʼn rampgebied verklaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.