Verwoestende swartryp tref Kaapse wingerde

Foto: Breedekloof-vallei

Foto: Breedekloof-vallei

Boere in die Breedekloof-vallei probeer steeds die skade bepaal ná die “mees vernietigende swartryp in 21 jaar”.

Nicholas Bruyns, ʼn wynboukundige by UniWines-wingerd, wat talle van die plase in omliggende gebiede bestuur, het gesê sommige boere verwag ʼn afname van tot 50% in produksie op hulle 2017-opbrengs. “Sommige boere het hulle oes vir 2017 totaal afgeskryf.”

Swartryp kom voor wanneer temperature onder vriespunt daal, maar die lug te droog is vir “gewone” ryp om te ontstaan. Sonder die beskermende lagie kristalle kom daar ʼn droëvries-toestand voor wat tot gevolg het dat die plante inwendig vries en swart verkleur.

ʼn Week se onverwagse koue lenteweer in die Wes-Kaap het daartoe gelei dat swartryp verlede week op talle wingerde neergedaal het. Dit het veral rondom Rawsonville voorgekom.

ʼn Week later word die uitwerking van die swartryp eers duidelik – wingerde het begin swart verkleur en verskroei.

Daar word gevrees dat die nagevolge van die swartryp oor die hele Suid-Afrika gaan versprei aangesien die Breedekloof-vallei sowat 26% van sy jaarlikse opbrengs aan wynverbouers elders in die land verskaf.

Pieter Cronjé, ook van UniWines-wingerd, het gesê die hooffokus is nou om hulle getroue plaaslike en internasionale kliënte te behou en deur die uitdagende finansiële jaar te kom.

Die besturende direkteur en keldermeester by Bergsig, De Wet Lategan, het bygevoeg dat hulle vir die eerste keer in die geskiedenis van Breedekloof nie genoeg druiwe sal hê om aan kopers se vraag te voldoen nie.

Willie Burger, die keldermeester by Badsberg-kelder, het gesê die swartryp was erger vir die wingerde as die droogte. “Talle boere kanselleer bestellings van nuwe plante omdat hulle moet voorsiening maak vir halfvol kelders wat teen vol kapasiteit funksioneer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Wat noem mens ‘n “Grand Solar Minimum” in Afrikaans? Al die tekens is daar dat ons dalk ‘n mini ystydperk kan binnegaan oor die volgende 30 jaar.

Sarie ·

Dis ‘n hartseer gesig… Ons het jare gelede in Doringkloof, Centurion gewoon & swartryp het gereeld daar voorgekom .. Die Bouganvillas se stamme het oopgebars…

John ·

… ja, ons wyn kan darem nie goedkoop bly as mielie-en veeboere se produkte-pryse die hoogte inskiet nie.

Danie ·

Dit is nogal rampspoedig. Tot wanneer in die jaar kan mens nog swartryp verwag. Oktober voel al laat in die seisoen enige iets behalwe haal te kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.