Verwoestende wind vir KZN voorspel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SANW) het Sondag inwoners aan die KwaZulu-Natalse kus gewaarsku dat sterk winde moontlik verdere verwoesting aan die vloedgeteisterde provinsie kan saai.

Die SANW verwag dat dele aan dié kus ʼn windspoed van tussen 70 en 80 km/h te wagte kan wees.

“ʼn Sterk tot stormsterk suidwestewind word oornag tot môre aan die KwaZulu-Natalse kus tussen Port Edward en Richardsbaai verwag. Benewens sterk rukwinde, word golfhoogtes van tussen 4 en 6 m verwag, wat dus ʼn baie rowwe see tot gevolg sal hê,” sê die weerdiens.

“Die wind sal na verwagting eers in die middag begin bedaar.”

Die gebiede wat deur hierdie moontlik verwoestende winde geraak sal word, sluit in die eThekwini-munisipaliteit, wat gebiede in en om Durban bedien, die Umdoni‑ plaaslike munisipaliteit, wat onder andere Scottburgh bedien, en die uMlalazi‑munisipaliteit, wat gebiede in en om Richardsbaai bedien.

Volgens die weerdiens moet hierdie gebiede veral op hul hoede wees aangesien die sterk rukwinde skade aan infrastruktuur soos paaie, eiendom en pypleidings al langs die kus kan veroorsaak.

“Water kan by klein vaartuie instroom en hulle loop die risiko om te slaan. Klein hawens kan ook vir ʼn kort tydjie ontwrig word.”

Die weerdiens raai inwoners aan die kus aan om kusgebiede, hawens en strande te vermy indien moontlik.

“Probeer dit ook vermy om vure aan te steek, aangesien brande kan ontstaan wat vinnig kan versprei en groot skade aan infrastruktuur kan veroorsaak en menselewens eis.”

Dele van KwaZulu-Natal gaan die afgelope tyd gebuk onder grootskaalse skade wat deur swaar reën veroorsaak is. Ná die eerste vlaag vloede is meer as 400 sterftes aangemeld, met duisende mense wat dakloos is.

Onlangse reënweer het nog duisende dakloos gelaat, met munisipaliteite wat spook om broodnodige infrastruktuur te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

My hart gaan uit na hierdie provinsie, sy inwoners en besighede. Vandat die looting plaasgevind het, is dit asof KZN nie kans kry om terug op hul voete te kom nie.

SjN ·

Gaan die wind nou ook ondersoek word , wat het van die weerligverslag bevinding geword wat in opdrag van die minister gedoen was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.