‘Verwyder ollie uit dieretuin,’ eis groep

Charlie, die olifantbul in die Pretoriase dieretuin [Foto: Pro Elephant Network (PREN)]

’n Groep van 51 organisasies en individue het ’n ope brief aan Barbara Creecy, minister van die departement van bosbou, visserye en omgewing, gerig om te vra dat ʼn olifantbul in die Pretoriase dieretuin onafhanklike gesondheidsorg ontvang en uit die dieretuin verwyder word.

In die brief vra die betrokke partye dat ’n onafhanklike olifantkenner die olifant, genaamd Charlie, moet ondersoek. Indien die resultate daarvan gunstig is, vra hulle dat Charlie daarna in ʼn meer geskikte natuurlike omgewing hervestig moet word.

Die brief is onder leiding van die Pro Elephant Network (PREN) en die EMS-stigting – organisasies wat bewaring op die hart dra – saamgestel.  Dié organisasies glo sterk dat olifante in die natuur hoort en dat hulle in alle gevalle, waar dit wettig moontlik is, in die natuur vrygelaat moet word. Die brief is onderteken deur ʼn wye verskeidenheid instansies en diereliefhebbers, insluitend veeartse en prokureurs.

Angeline Schwan, woordvoerder van Sanbi, sê egter Charlie het onlangs ’n mediese ondersoek ondergaan en daar is bevind dat hy gesond en in goeie luim is.

“Die periodieke gesondheidsevaluering is op 8 Maart deur ʼn span van ses eksterne en onafhanklike wildveeartsenykundige spesialiste, en twee interne veeartse van die dieretuin gedoen,” het Schwan aan Maroela Media bevestig.

“PREN en die EMS-stigting is welkom om onafhanklike gesondheidsbeoordelings op Charlie uit te voer en die proses sal aan die vereistes van die Wet op Veterinêre en Para-veeartsenykundige Beroepe moet voldoen.”

Schwan sê volledige mediese ondersoeke word gemiddeld oor ʼn siklus van twee tot drie jaar uitgevoer, maar kan verander word soos bepaal deur die dieretuin se veeartsenykundige span.

“Charlie is in Mei 2012, April 2016, Junie 2018, Oktober 2019 en Maart 2022 ondersoek.”

Die groep organisasies is lank al bekommerd oor Charlie se gesondheid nadat hy in Oktober glo siek geword het.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur die EMS-stigting is dit nie die eerste keer dat Charlie se welstand kommer wek nie. Schwan het in Mei 2019 ontken dat Charlie tekens van benoudheid toon, nadat lede van die publiek hul kommer uitgespreek het oor sy voorkoms.

In Desember 2020 het talle negatiewe mediaberigte oor Charlie se welstand die lig gesien, ná die skielike en tragiese dood van Landa, die olifantkoei wat ’n kamp met hom gedeel het. Die organisasies glo sy is aan koliek dood. Daar word ook beweer dat Charlie dalk koliek het.

Luidens die verklaring het die groep na afloop van bogenoemde gebeure vir Creecy geskryf om hul kommer oor Charlie se welstand te lug.

Hulle het toe, in opdrag van Creecy, gepoog om deursigtig met die administrateurs van die dieretuin en verteenwoordigers van die Sanbi te skakel om oor Charlie se welsyn te praat.

“Tot op hede het ons pogings nie die gewenste uitkoms vir Charlie gehad nie,” het die EMS-stigting in die verklaring gesê. Daarom dat hulle besluit het om nóg ʼn brief aan Creecy te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Vat hom wildtuin toe !!! Hy sal in ‘n japtrap weer ‘n huppel in sy stap hê….

Kirst ·

Of ‘n maklike teiken vir ‘n stroper raak omdat hy gewoond is aan mense…

Twallie ·

Ek stem.

Alhoewel baie dieretuine goeie werk doen met kleiner spesies, veral bedreigde spesies, hoort diere nie in dieretuine nie. Dis egter ‘n tweeledige probleem want sommige spesies sal dit nie maak as die mensdom aangaan soos hulle aangaan nie. So daar is goed saam met die sleg aan dieretuine.

Maar daar is baie plekke in Suider Afrika wat Olifante die spasie kan gee wat hulle benodig om gelukkig te wees. Sulke groot diere wat baie kilometers ver reis in hul wilde habitat, hoort nie in dieretuine nie.

Di ·

Tipiese ANC Kader – Vat ‘n ewigheid om besluite oor iets te neem. Stem saam dat hy losgeaat moet word, hy verdien dit

Wielspore ·

Dit is lagwekkend.
Ek is stigter van PRO-Hadada ibis en versoek die gemeenskap dat die voël as beskermde spesie verklaar word. Die Hadada is soveel deel van elke landsburger met vriendelike oggend groet, ha ha haha en saans sy nagsê voor hy gaan slaap. Trek Saterdag ‘n masker aan met ‘n lang snawel soos Hadada sin om ‘n punt te maak.
Ek wonder watse instansie is PREN?

Cherokee ·

Oor die algemeen bekend as hadida of hadeda. Ek hou van jou beskrywing.

miavos ·

Dis ‘n Asiese olifant. Wat soek hy hier? Vat hom terug Thailand toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.