“Verwyder Phiyega uit haar amp” – DA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Demokratiese Alliansie (DA) het versoek dat Riah Phiyega uit haar amp as nasionale polisiekommissaris verwyder word.

Dit volg nadat City Press berig het Phiyega het vir polisieminister Nathi Nhleko laat weet sy gaan nie haar samewerking gee in ʼn ondersoek na kwessies in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie.

Nhleko het in Oktober in ʼn brief wat glo aan Phiyega gerig was, vir haar gesê hy is in kennis gestel van ʼn aantal bekommernisse met betrekking tot die funksionering van die SAPD. Die koerant berig dat hy vir haar gesê het hy het ʼn verwysingsgroep aangestel om ondersoek in te stel.

“Daar sal van die nasionale kommissaris en die bestuur verwag word om hulle volle samewerking aan die verwysingsgroep te gee. In die besonder word verwag dat alle dokumentasie wat versoek is, betyds verskaf word om te verseker dat die verwysingsgroep hulle verantwoordelikhede binne die aangewese tydsraamwerk kan voltooi,” het Nhleko glo geskryf.

In haar antwoord aan Nhleko het Phiyega geskryf sy sal nie haar samewerking gee nie. Sy het ook aan pres. Jacob Zuma geskryf om te kla oor die versoek.

Sy het verder vir Nhleko geskryf enige bekommernisse moes eers na haar toe gebring word. Sy het ook bygevoeg dat die groep se mandaat in die algemeen oordrewe is en dat dit kan inbreuk maak op administratiewe magte wat uitsluitlik berus by die nasionale kommissaris.

“Phiyega se aanstelling was rampspoedig van die begin af,” het LP Dianne Kohler-Barnard in ʼn verklaring gesê.

Kohler-Barnard  beweer dat Phiyega se aantyging dat Nhleko geen reg gehad om die ondersoek van stapel te stuur nie, sonder grondslag was, siende dat hy bemagtig is om dit te doen volgens artikel 208 van die grondwet.

Kohler-Barnard het Phiyega daarvan beskuldig dat sy nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir “die gemors wat sy in die polisie veroorsaak het” nie.

“Haar arrogante uittarting van die minister is die laaste strooi. Pres. Zuma moet haar nou afdank,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gatvol ·

Julle slapgat DA,los die politieke speel bal uit en maak eerder EVKOM bymekaar of kry julle ook n “cut” van die bonusse wat betaal gaan word

scalla ·

Moes in die eerste plek nie die aanstelling gekry het nie, geen polisie ondervinding ens, boetie boetie aanstelling, so gaan dit met die onbevoegde korrupte staatsdiens, alles moet eers ten gronde gaan voor daar wakker geskrik word. Wanneer gaan hul besef dat hul nie in staat is om n land te regeer nie, kan nie eers die bestaande infrastrukture in stand hou nie, Iets sal drasties moet gebeur en baie vinnig ook!!!

pop ·

Scalla niks gaan gebeur nie. Alles gaan net meer en meer in duie stort, en 100 jr van nou af as dit n bar woestyn is sal die apartheid nog die skuld daarvoor kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.