Verwydering van OB: Speaker sê dalk volgende week

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, sal na verwagting volgende week die paneel aankondig wat sal besluit of daar ’n prima facie-saak voor uit te maak is dat die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos verwyder moet word.

Die aankondiging is Donderdag in die Nasionale Vergadering se programkomitee gemaak in antwoord op ’n navraag deur die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone.

Die nuwe reëls bepaal dat ’n kundige paneel met onder meer grondige kennis van die reg daargestel moet word om te bepaal of daar op die oog af ’n saak uit te maak is dat die openbare beskermer verwyder moet word.

Alle politieke partye in die parlement het reeds hul voorleggings gemaak oor wie op so ’n paneel moet dien.

Verdere nuus uit die programkomitee sluit in dat die omvang van openbare kritiek op die parlementêre proses om ’n nuwe raad vir die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) saam te stel, daartoe gelei het dat die proses nou oorgedoen word.

Die vorige proses is allerweë as ’n klug bestempel nadat dit uitgelek het dat ’n lys wat die ANC-hoofkantoor, vooraf opgestel en aan ANC-lede van die tersaaklike ad hoc-komitee versprei, onveranderd geïmplementeer is – wat ’n bespotting gemaak het van die onderhoudproses.

Twee belangrike aankondigings in vandeesweek se programkomitee is dat die Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Inkomste nou deur al die komiteestadiums is en gereed staan om aanvaar te word. Dit is hoe provinsiale staatsdienste die geld kry om hul werk te doen.

’n Wetsontwerp wat met valkoë dopgehou word in die arbeidsmark en enigeen wat mense in diens moet neem, is die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid. Openbare voorleggings hieroor word tot 19 Februarie volgende jaar deur die parlement ingewag.

Nog ’n omstrede wetsontwerp is die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg. ’n Voorlopige komiteeverslag hieroor word op 24 November verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.