Veteraan mediaman, vrou sterf dag uit mekaar

Raymond Louw. Foto: Press Council

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy leedwese uitgespreek met die dood van die veteraan-joernalis Raymond Louw en sy vrou.

Louw is Woensdag in die ouderdom van 92 jaar oorlede, net 24 uur ná die dood van sy vrou, Jean (87).

Louw was ʼn joernalis, redakteur en mediakommentator. Hy het verskeie nasionale en internasionale toekennings vir mediavryheid gewen en is in 2011 deur die internasionale persinstituut aangewys as “Word Press Freedom Hero”.

“Hy was sedert die ontstaan van Sanef betrokke by die forum en het beduidende bydraes gelewer om strafregtelike wette teen mediavryheid te beëindig. Hy was deurentyd by hierdie besprekings en beraadslagings betrokke,” het Mary Papayya, stigterslid van Sanef, gesê.

“Hy was passievol oor toegang tot inligting en die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) en om die beskerming van joernalistieke bronne te verseker. Ons het ʼn reus in die mediabedryf verloor. Sy rol in Sanef en die media was van onskatbare waarde en hy was vir so baie mense ʼn mentor.”

Oom Ray, soos hy onder Sanef-lede bekend was, het Sanef se Stephen Wrottesley-toekenning drie keer gewen vir sy onvermoeide toewyding aan die organisasie.

“Ons sal sy redaksionele wysheid, sy passie vir geregtigheid en sy onstuitbare energie mis. Selfs ná sy aftrede het Louw ongelooflik baie tot Sanef bygedra.

“Die voortgesette aanvalle op joernaliste en pogings om die media te muilband was vir hom pynlik. Hy was ʼn onskatbare bron van wysheid en ʼn pilaar van krag,” het Mahlatse Mahlase, Sanef-voorsitter, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ferreira ·

Dit is jammer hy is nog van die regte joernaliste wat die feite deurgegee het soos dit is sonder vrees om miskien nie polities korrek te wees nie RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.