Vetkoek glo nié rede vir tienerseuns se dood

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die Wes-Kaapse departement van omgewingsgesondheid het Donderdagmiddag gesê die drie tieners van Langa in Kaapstad wat dood is nadat hulle glo vetkoek by ʼn straatverkoper gekoop het, het glo nié weens voedselvergiftiging gesterf nie.

JP Smith, die DA se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het aan Maroela Media gesê mediaberigte wat daarop dui dat die seuns weens “giftige” vetkoeke gesterf het, is moontlik onwaar.

Vyf seuns het glo Sondagaand vetkoek by ʼn straatverkoper gekoop. Drie seuns wat ʼn hele vetkoek geëet het, het gesterf, terwyl een seun wat net ʼn stukkie geëet het in ʼn Wes-Kaapse hospitaal opgeneem is. ʼn Vyfde seun, wat glo nie van die vetkoek geëet het nie, is ongedeerd.

Smith sê die departement van omgewingsgesondheid het ná ʼn ondersoek aangedui dat die seuns moontlik “bykomende middele” op die vetkoeke gesit het voor hulle dit geëet het.

Hy wou egter nie uitbrei oor presies watter middele op die vetkoeke bygevoeg is nie, en het gesê die seuns se juiste oorsaak van dood moet deur ʼn nadoodse ondersoek bevestig word.

“In dié stadium kan ons niks met sekerheid sê nie, maar die departement van omgewingsgesondheid het aangedui dat die kinders glo nié dood is aan giftige vetkoeke soos berig is nie. Of hulle wel middele op die vetkoeke gesit het en wat presies dié bykomende middele was, sal deur die nadoodse ondersoek bepaal word,” sê Smith.

Geen gemene spel word in dié stadium vermoed nie. ʼn Polisieondersoek na die voorval duur voort en meer inligting sal weldra bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marisa ·

Ek vermoed dis ‘middele’ wat deur die seuns self op of in die vetkoeke gesit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.