Vetplante nou bedreig deur droogte, stroping

Dwergvetplante van die genus Conophytum word kwaai gestroop. (Foto: Pieter van Wyk)

Daar is ʼn haas ongekende afname in natuurlike vetplante in Suid-Afrika weens ʼn kombinasie van klimaatsverandering en die onwettige oes van die plante om aan ʼn groeiende vraag daarna te voldoen.

Sedert 2019 was daar ʼn skerp toename in die wêreldwye vraag na dié plantjies, wat al hoe meer versamel word deur ontluikende markte in Asië.

Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se rooilys vir bedreigde spesies sluit 210 spesies vetplante in, wat nou vir die eerste keer gelys word.

Die meeste van die spesies behoort tot die genus Conophytum, ʼn groot en diverse groep dwergvetplante wat in Engels algemeen bekend staan as “buttons”. Altesame 97% van die genus word gelys in een van die drie kategorieë vir bedreigde spesies; 45% word aangedui as kritiek bedreig, wat beteken dit is op die rand van uitwissing.

Drie spesies kokerbome word vir die eerste keer as bedreig op die IUCN se rooilys aangedui. (Foto: Domitilla Raimondo)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) sê dit is moontlik dat sommige van die spesies reeds weens stropery uitgewis is omdat die hoeveelheid plante waarop beslag gelê word en by veilige liggings vir verdere hofsake gehou word, dikwels meer is as wat die totale grootte van die geskatte natuurlike bevolkingsvoorkoms is.

Die vetplante is nie voorheen op die IUCN se rooilys aangedui nie, maar is op die Suid-Afrikaanse nasionale rooilys ingesluit. Sedert 2019 was daar ʼn toename in die bedreigingstatus van 143 (91%) van die 157 Conophytum-spesies – en dit word hoofsaaklik aan stropery toegeskryf.

Conophytum vanheerdei word ook as kritiek bedreig aangedui. (Foto: Andrew J. Young)

Sanbi sê oor die afgelope drie jaar was daar ʼn styging van 250% in die hoeveelheid plantjies waarop wetstoepassingsowerhede beslag lê. ʼn Nasionale reaksiestrategie en aksieplan is reeds opgestel om samewerking tussen verskillende staatsdepartemente, nie-regeringsorganisasies, bewaringsgroepe en plaaslike gemeenskappe te bevorder om die oorlewing van die vetplante te verseker, terwyl volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling terselfdertyd bevorder word.

Die Karoo-vetplantbioom tussen Suid-Afrika en Namibië is een van vyf semidroë biodiversiteit-brandpunte in die wêreld en is ryk in botaniese diversiteit. Dit beteken egter ook talle van die unieke spesies wat hier aangetref word, is uiters gesog onder spesialisplantversamelaars.

Duisende van die vetplantspesies groei in klein gebiede en ongelukkig word talle van die plante wat so gesog is, nog nie op kommersiële skaal gekweek nie. Sosialemediaplatforms wemel van advertensies vir vetplante en bevorder die groei in onwettige handel.

“Baie van die mense wat hierdie plante koop, besef nie eers hulle begaan ʼn misdryf nie,” sê Craig Hilton-Taylor, hoof van die IUCN se rooilys-eenheid.

“Hulle is hopeloos oningelig of naïef oor die onwettige handel in plante. Hulle dink net ‘a, dit is ʼn mooi ding om vir my huis of tuin te koop’,” sê hy.

Dit beteken daar is ʼn verhoogde gevaar van uitwissing van honderde ander spesies.

Klimaat knou vetplante

Conophytum bruynsii kom net in ‘n enkele gebied voor en word as kritiek bedreig aangedui. (Foto: Andrew J. Young)

Benewens grootskaalse stropery hou klimaatsverandering nog ʼn bedreiging vir die oorlewing van die vetplante in.

Die Karoo-vetplantbioom het die felste droogte in meer as ʼn dekade agter die rug en klimaatmodelle voorspel voortgesette verwoestyning en ʼn styging in maksimum temperature. Drie spesies van die ikoniese kokerbome word as bedreig aangedui en Aloidendron pilansii as kritiek bedreig. Die voorkoms van die boom sal na verwagting teen 2080 reeds met 90% afgeneem het.

Nog ʼn spesie van die kokerboom word as kwesbaar aangedui.

Die kwaai droogte in die Richtersveld en Sperrgebiet-omgewing wat deel van die Karoo-bioom vorm, huisves sowat 1 000 spesies wat endemies aan die gebied is. Die gebied is die wêreld se mees biodiverse woestynstreek, maar honderde ander spesies in ander gebiede word deur soortgelyke dalingsvlakke in die gesig gestaar weens ʼn uitgerekte droogte.

Sanbi sê die kombinasie van onwettige oes, langtermyndroogtes wat met klimaatsverandering verband hou en die verswakking van grond weens oorbeweiding en mynboubedrywighede, skep ʼn verwoestende storm wat ʼn ongekende verlies aan biodiversiteit in die wêreld se rykste woestyn-ekostelsel tot gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Destroy destroy destroy on land in the sea and in the air. destroy. Nie meer lank dan sal jy nie eers meer ‘n perlemoen of kreef kry om te eet nie, en jy sal na ‘n renoster, leeu en oliphant in ‘n dieretuin moet gaan kyk!

Pieter ·

Die gewone mens vernietig die totale skepping uit hebsug, gierigheid en geld. Het geen genade met die groeiende wêreldbevolking nie. Time to Die.

groenboer ·

Eintlik eienaardig dat vetplante bedreig word: hulle is in die reël baie maklik om van steggies af te kweek, en dit behoort maklik te wees om hulle in sulke hoeveelhede te kweek dat daar geen tekort aan hulle sal wees nie.

Kokerboom ·

Vraag bly: Wat word beplan of gedoen om die aksie teen te werk?
Kan die skaars spesie nie maar op kommersiële skaal gekweek word om uitwissing te voorkom?
Kan iemand nie maar leiding neem?

Di ·

Asie is ook orals betrokke as dit kom by die venietiging van ons plante, see en dierelewe in SA!
Stropers en Asie moet dringend vasgevat word vir hulle betrokkenheid by al hierdie stropings wat plaasvind in SA. ALLES net vir geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.