VF Plus: Beloftes oor e-tol raak afgesaag

Philip van Staden, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer, sê die provinsie se premier moet end kry met sy leë beloftes oor die skrapping van e-tol. Foto: Verskaf

Die uitlatings van David Makhura, Gautengse premier, oor die e-tolstelsel is al holrug gery en kom neer op net leë beloftes.

So sê Philip van Staden, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer, en voeg by die premier het sedert 2014 elke jaar in sy provinsiale rede “tot vervelens toe dieselfde belofte oor e-tol gemaak, maar niks gebeur nie.

“Die belastingbetaler van Gauteng is nou al siek en sat vir Makhura wat oor en oor, jaarin en jaaruit, dieselfde standpunt in die media inneem, maar daarna sterf dit ʼn stille dood.”

Makhura het Donderdag gesê e-tol is nie deel van die toekoms in Gauteng nie; ʼn ander oplossing sal gevind moet word om die padnetwerk in stand te hou en uit te brei.

Volgens die premier het die ANC-konferensie in Gauteng ooreengekom om e-tol te skrap. Hy is ook die mandaat gegee om die saak met pres. Cyril Ramaphosa en die nasionale regering op te neem om ʼn ooreenkoms te bespoedig.

“Indien Makhura ernstig was oor die skrapping van die e-tolstelsel, sou hy as premier reeds sy rug teen die nasionale regering styf gemaak en die stelsel laat vaar het,” meen Van Staden. “In plaas daarvan het hy in 2014 ʼn paneel aangewys wat die stelsel ten duurste ondersoek het en alle rolspelers in Gauteng het voor die paneel verskyn.

“Die VF Plus wil dit duidelik stel dat die premier besig is met kat-en-muisspeletjies en dat die belastingbetaler van Gauteng reeds deur hom gesien het. Makhura moet ophou om aanhoudend dieselfde uitsprake te maak en verder niks aan die saak te doen nie.”

Van Staden sê die VF Plus hou voet by stuk e-tol is onwettig en nie werkbaar nie. Die party eis dat Makhura dadelik by Sanral daarop aandring dat geen verdere rekeninge of dagvaardigings aan motoriste uitgestuur word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heinrich ·

Ek sal nie verbaas wees as dieselfde klomp wat by die staatskaping betrokke is, ook hier betrokke is nie, en dat die opskorting van hierdie onwettige stelsel ook hulle posisie van die trog af in gedrang sal bring. Hier sal niks van kom nie, nie as die ANC daarby betrokke is nie; daar is dan nog geld om te skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.