VF Plus bied konferensie oor selfbeskikking aan

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die VF Plus bied oor die volgende vier weke ʼn topvlak- virtuele konferensie aan om selfbeskikking, wat gebruik word om spanning tussen bevolkingsgroepe te ontlont, te bespreek. Kenners op verskeie gebiede sal aan die konferensie deelneem.

Die konferensie begin Maandag met sprekers soos prof. Koos Malan, Carel Boshoff en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aan die woord.

Dr. Wynand Boshoff, voorsitter van die VF Plus se navorsingskomitee, sê met hierdie konferensie beoog die party om die ideale van selfbeskikking as teoretiese begrip in planne sowel as praktiese uitvoering om te sit.

“In Suid-Afrika was daar herhaalde pogings om onderliggende spanning deur selfbeskikking te ontlont. Om ʼn verskeidenheid redes het dit nog nie geslaag nie en die onderliggende spanning bestaan steeds.”

Boshoff sê die Grondwet hou egter wel die deur vir selfbeskikking oop.

“Dat die Grondwet meer as akademiese waarde het, is deur die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding as regeringsbeleid beklemtoon.”

Boshoff sê ʼn deurslaggewende vraag is hoe minderheidsgroepe in Suid-Afrika die reg tot selfbeskikking kan aanwend om hulself teen ʼn staat te beskerm wat tegelyk “magsdronk, maar ook korrup en onbekwaam is”.

“Die eerste keer wat die begrip gebruik is, was met die ontbinding van die Oostenryk-Hongaarse ryk in 1918. Die Eerste Wêreldoorlog is afgevuur deur die frustrasie van onderhorige volke binne hierdie ryk, daarom is selfbeskikking as ’n meganisme tot vrede in werking gestel.”

Boshoff sê selfbeskikking is ook een van die grondslae van die Verenigde Nasies. “Ná die Tweede Wêreldoorlog is dit ook na koloniale ryke uitgebrei, waar Europese oorheersing oor gebiede in Afrika en Asië deur selfbeskikking vervang is.”

Hy sê weens die onoordeelkundige vasstelling van koloniale grense in Afrika is nuwe state geskep waar sekere bevolkingsgroepe ander oorheers. Onderdrukking, etniese suiwering en selfs volksmoord is van die wrang vrugte van hierdie nuwe state. Die Organisasie vir Afrika-eenheid en die opvolger daarvan, die Afrika-Unie, het besluit om koloniale grense ter wille van stabiliteit te handhaaf.

“Is selfbeskikking ʼn sinoniem vir afskeiding? Moet ʼn mens iewers heen trek om selfbeskikking te verkry? Watter vorms van selfbeskikking kan vir ʼn minderheidsbevolking verkry word? Dit is praktiese vrae wat beantwoord moet word voordat tot optrede oorgegaan kan word.”

Al hierdie en ander vrae word tydens die konferensie bespreek en die program verloop soos volg:

Maandag 19 Oktober:

Wat moet ʼn mens van selfbeskikking en dies meer weet voor dit bereik kan word? Hier gaan dit oor teoretiese begrippe waarsonder die praktyk nie benader kan word nie. Deelnemers is prof. Koos Malan, Carel Boshoff en Flip Buys.

Maandag 26 Oktober:

Watter vorme van selfbeskikking is vir ʼn verspreide minderheid haalbaar – en hoe word dit bereik? In buurtwagte, skoolbeheerliggame en talle ander verbande beoefen mense reeds selfbeskikking, sonder om die woord te gebruik. Wat is nog moontlik? Hoe ver kan dit vorder? Deelnemers is prof. Deon Geldenhuys, dr. Pieter Mulder en Alida Kok.

Maandag 2 November:

Selfbeskikking en ekonomiese haalbaarheid, met klem op die belang van fiskale bevoegdhede. Wat het mens eintlik nodig om selfbeskikking ekonomies te laat werk? Wat is die belangrikste, baie grond, of bevoegdheid om die staatskas te bestuur? Deelnemers is prof. Jannie Rossouw, die ekonoom Dawie Roodt en dr. André Laäs.

Maandag 9 November:

Hoe bereik ʼn afgebakende gebied selfbeskikking? Wat sê die staatsreg? Is jy selfstandig as iemand jou ligte kan afsit? Wat leer die praktyk van Orania mense? Deelnemers is dr. Corné Mulder, Danie Coetzee en Frans de Klerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Heinrich ·

Daar’s hy ouens, kom ans kry die bal aan die rol. Hoop die belofte van prakties toepas gaan gedoen word en dat hierdie nie net by praat bly nie.

Frik ·

Selfbeskikking is die enigste uitweg en oplossing vir die Afrikaner en ander minderheidsgroepe in Suid Afrika. Dinge kan nie aangaan soos dit nou aangaan nie en dis tyd vir verandering. Dis tyd vir selfbeskikking en die tyd is nou!

Jaco ·

Toe die verregse AWB in die 1980s van selfbeskikking en volkstaat gepraat het, het die regerende Nasionale Party dit afgeskiet as rassisme. Die regse Konserwatiewe Party en die ewe regse Herstigte Nasionale Party (dié 2 partye kon nooit saamwerk nie) het weer van ‘n volkstaat gesê “dit kan nie werk nie”. In 1991, toe almal al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na amper 30 jaar bly daar minder as 2000 mense, wat in 8 kerke verdeel is.
Ons het ons kanse gehad, maar toe was daar mos verskonings van “dit kan nie werk nie” en enersdenkende groepe wou ook nie saamwerk nie. G’n wonder die ou wit Nasionale Party regering wou ons het nie help nie. Nou is laat. Die anti-wit ANC sal dit nooit vir ons gee nie.

PieterP ·

Juis! Hoe bly meer mense aan die lewe op Orania byvoorbeeld? Ons kan gaan en dan? Gaan kripeer van ellende want hoe sorg jy vir jou gesin daar?

PieterP ·

Nou waar gaan ons die lappie grond vandaan kry sodat ins almal aan die lewe kan bly? ‘N ou lappie brak grond waar niks regtig groei nie? Julle dink seker nie dat julle bv. die Weskaap by die kaders sal kan afvry nie doen julle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.