VF Plus dien ook voorstelle in vir ‘slim’ afsondering  

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Die VF Plus het ook aanbevelings aan pres. Cyril Ramaphosa en die Covid-19- nasionale taakspan voorgelê oor aanpassings met betrekking tot regulasies rondom die algemene inperking ten einde dit meer ekonomies volhoubaar te maak.

Dié aanbevelings sluit in om:

  • skryfbehoeftes as noodsaaklike goedere te lys
  • aandag te gee aan die agterstand by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)
  • hardeware beskikbaar te maak vir toelaatbare kritieke instandhoudingswerk
  • noodsaaklike landbou-aktiwiteite soos veeveilings met toepaslike maatreëls toe te laat
  • buurt- en plaaswagte toe te laat om ten volle te funksioneer
  • aandag te gee aan poreuse landsgrense en
  • aanlynhandel en die aflewering van goedere moontlik te maak.

Die Shoprite-groep het plastiekmaskers aan sy werkers verskaf en stel verskeie mobiele klinieke bekend om in die stryd teen Covid-19 te help. (Foto: Shoprite)

Dit sluit ook in om dit moontlik te maak vir onder meer restaurante om op bestelling wegneemetes by klante af te lewer.

“Die nasionale inperkingsperiode om die verspreiding van die Covid-19-virus te keer het ʼn groot uitwerking op die mense van Suid-Afrika en op die land se ekonomiese voortbestaan,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Die infeksiekoers van Covid-19 moet hokgeslaan word terwyl daar op ʼn verantwoordelike en innoverende wyse meer ekonomiese aktiwiteit toegelaat word.”

Hy sê die VF Plus se aanbevelings het ook munisipale owerhede se verkeerde vertolking van die regulasies in die oog en vra ook vir duidelikheid aan wetstoepassingsowerhede met betrekking tot die omstandighede waaronder Suid-Afrikaners hul huise mag verlaat en watter vorms/permitte van toepassing is.

“Die VF Plus stel ook voor dat die regering ʼn aanlynwinkel inisieer om kleinhandelaars, soos in die kuns- en kunsvlyt- of kleresektor, in staat te stel om produkte aanlyn te verkoop,” sê Groenewald.

Hy sê alle Suid-Afrikaners is tans kwesbaar rakende die pandemie en die sosio-ekonomiese gevolge van die ekonomiese ineenstorting. “ʼn Persoon wat ʼn maand gelede ʼn bestendige inkomste gehad het en wat vir sy of haar gesin kon sorg, het skielik uiters kwesbaar geword. ʼn Persoon wat ʼn verband en ander finansiële verpligtinge kon bekostig, is skielik bankrot. Hierdie kwesbaarheid strek oor ras, ouderdom en geslag.

“Die regering moet die kwesbaarheid van veral diegene wat minder as ʼn maand gelede kon werk, persone in diens kon neem en bestee in ag neem,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amatambo ·

Die ANC-houding is: Kyk, wat weet julle ‘bleeksiele’? ONS is in beheer, as gevolg van ons slim idees… ons mense het dan die piramides gebou –

Delilah ·

Daar is so baie noodsaaklike items wat van belang is. Ek is in die penarie met my motor wat dringend ‘n diens benodig – ek moet werk (is een van die essential workers) en my motor het nie net ‘n gewone diens nodig nie maar ook die belt moet verander.

Michael 1 ·

Maak meer sin as die blou klomp en sou uitstekend gewees het in n onafhanklike tuis staat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.