VF Plus en Transnet-pensioenarisse ruk op na Uniegebou

uniegebouHonderde Transnet-pensioenarisse en hul familielede gaan Donderdagoggend saam met die Vryheidsfront Plus (VF Plus) na die Uniegebou in Pretoria opruk as deel van ʼn openbare betoging oor dié werkers se pensioenfondse.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle hoop om tussen 100 en 400 verteenwoordigers daar te hê.

“Die staptog skop om 08:00 by die Pretoria-kunsmuseum op die hoek van Francis Baard (Schoeman)- en Wesselsstraat af,” het Alberts gesê. Hy het gesê die groep sal tot by die grasperk by Uniegebou stap waarna ʼn groep van ses afgevaardigdes, wat uit hom en leiers van die pensioenarisse bestaan, na die Uniegebou sal opbeweeg waar ʼn beswaarskrif aan ‘n verteenwoordiger van die presidensie oorhandig gaan word.

“Die verarmde Transnet-pensioenarisse het reeds ‘n klasaksie-hofaansoek teen Transnet en die regering geloods weens die plundering van hulle pensioenfondse oor ‘n tydperk van meer as 20 jaar,” het Alberts bygevoeg. “Dit is tyd dat die kwessie verder aan die groot klok gehang word deur die betoging sodat die president se kantoor dringend kan ingryp. Die pensioenarisse verarm by die dag weens ‘n klein jaarlikse verhoging van slegs 2%, wat in skrille kontras staan met die beloftes wat die Transnetbestuur aan die pensioenarisse gemaak het rakende ‘n menswaardige aftrede.”

Hy het die publiek genooi om die pensioenarisse te ondersteun met dié betoging.

Lees ook:
Bonusbetaling aan Transnet-pensioenarisse; betoging beplan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Babs ·

Dankie VF+. Enigste party wat hulp aangebied het om te veg vir Transnet pensioenarisse. Ander partye help net die wat reeds deur die ANC gehelp word. Familielede van T/net pensioenarisse moet asb deel neem aan die optog.

Frik Lotz ·

Dis n skande dat Transnet pensioenarisse so moet swaarkry en Transnet maak net wat hul wil. Dis tyd dat hierdie saak tot n punt kom. Die VF Plus doen fantastiese werk vir die pensioenarisse. Nog n goeie rede om VF Plus te stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.