VF Plus gryp in om Highveld Steel te probeer red

staalbedryf seifsa

Argieffoto: Hera.org.nz

Die VF Plus het die voorsiter van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid in ʼn skrywe versoek om dringend in te gryp in ʼn poging om die staalvervaardiger Highveld Steel van ondergang te red.

Anton Alberts, die VF Plus se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê alhoewel dit in hierdie stadium blyk dat die maatskappy nie meer gered kan word nie, rus daar wel ʼn verpligting op die staat om ingevolge ʼn onderneming van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) die land se nywerheidskapasiteit te bewaar.

“Dit, tesame met president Jacob Zuma se verbintenis in sy staatsrede verlede week om werkgeleenthede te skep en bewaar, maak dit van die grootste belang om ʼn reddingsboei na Highveld Steel uit te gooi,” het Alberts bygevoeg.

Alberts het in sy brief aan JL Fubbs, voorsiter van die portefeuljekomitee, gesê die sluiting van Highveld Steel is vir hom verontrustend. “Talle mense is afgelê, en baie van hulle is tans onder geweldige geldelike druk. Een van die redes wat tot hierdie situasie gelei het, is die versuim van die NOK om nie toegewysde fondse aan Highveld Steel beskikbaar te stel soos hy ingevolge ʼn onderneming moes doen nie,” het Alberts verduidelik.

Volgens hom is dit uiters kommerwekkend gegewe die menselyding en waarde wat met die sluiting verlore sal gaan. “Die VF Plus versoek Fubbs daarom om met die NOK te skakel om hulle opdrag te gee om te verduidelik waarom die nodige fondse nie beskikbaar gestel is nie. Die komitee kan terselfdertyd met die NOK en die departement van handel en nywerheid gesprek voer om vas te stel wat anders gedoen kan word om tot Highveld Steel en sy werknemers se redding te kom.”

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit en die National Union of Mineworkers (Numsa) het aangekondig hulle sal alles in hul vermoë doen om ʼn dringende vergadering met pres. Jacob Zuma te reël sodat die regering kan ingryp om Highveld Steel se ineenstorting te voorkom.

Lees alle vorige berigte oor Highveld Steel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Arina ·

Dankie vir ‘n party wat iets daadwerklik en nie soos ander stil is as daar sulke kwessies is nie. Dankie vir jul positiewe inisiatiewe ons sien dit raak, en ons weet waar ons, ons kruisies gaan maak in die volgende verkiesings

Irene ·

Ander partye sit net vas by univ oor afrikaans stel nie belang in myne nie

Johan van den Bergh ·

Hoe is dit anders as om SAA te red. As hulle nie winsgewend is nie, laat hulle ondergaan. Ek het wel simpatie met die wat hulle werk verloor, maar moet nie die regering vra vir belastingeld om ‘n privaat onderneming te red nie.

PIETER ·

Kan die plek gered word eers sal die koste bepaal moet word, is die plek op standaard wettiglik. miskien sal n nuwe plek goedkoper kos.Maar ek stem saam die regering moes lankal ingegryp het,of is dit vir die ANC rykes nie lonend nie vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.