VF Plus help met reënskade in Krugersdorp

(Foto verskaf deur VF Plus)

Die VF Plus in Krugersdorp het Saterdagoggend vroeg gehelp om ʼn beskadigde brug en pad te herstel deur meganiese toerusting te kry om dit weer begaanbaar te maak. Huiseienaars was van die buitewêreld afgesny weens swaar reën wat in die weste van die gebied geval het.

Verskeie inwoners wat langs ʼn stormwatersloot in Krugersdorp-Wes woon, het al hul besittings verloor nadat water meer as ʼn meter hoog deur huise gevloei het. Grensmure is omgestoot, brûe se veiligheidsheinings is vernietig en motors is deur water meegesleur.

Groot dele van die geteisterde gebied se kragtoevoer is ook onderbreek nadat ʼn substasie weens waterskade beskadig is. Die verwagting is dat die gebiede vir ʼn geruime tyd sonder elektrisiteit gaan wees, het Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid, gesê. Verskeie paaie in Krugersdorp is gesluit nadat die teeroppervlak deur swaar reën opgelig is.

Maroela Media het vroeër berig Hoërskool Monument is ook erg deur die vloed geraak nadat verskeie heinings omgeval het en tennisbane se oppervlakte vernietig is. Die skool het reeds vrywilligers gevra om met opruimingswerk te help.

(Foto verskaf deur VF Plus)

“Dit is jammer dat die Mogale City- plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) nie voorsiening kan maak vir die hantering van noodsituasies nie omdat die munisipaliteit finansieel uitgeput is,” het Steenkamp bygevoeg. “Swak beplanning van die munisipaliteit kan daartoe lei dat mense dae sonder elektrisiteit is, paaie nie dadelik herstel kan word nie terwyl die speaker van die raad, Noluthando Mangole, nie verlede jaar gehuiwer het om ʼn splinternuwe ampsmotor van meer as R800 000 aan te koop nie.”

Die VF Plus het reeds die privaat sektor en organisasies gevra om mense in nood te help en sal die munisipaliteit versoek om alles in hul vermoë te doen om die elektrisiteit so gou as moontlik te herstel en opruimingspanne te stuur sodat paaie weer oopgestel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.